GEORGE NUUS - Die Borcherds-gemeenskap is verslae gelaat ná twee jong verdagtes die afgelope naweek vir twee afsonderlike messteek-moorde in hegtenis geneem is.
Die eerste voorval het op Saterdag kort na 21:00 in Garciastraat plaasgevind. Met die polisie se aankoms is die liggaam van die 18-jarige Mbali Makrenene met 'n steekwond aan sy bors aangetref. Hy is deur paramedici op die toneel dood verklaar.
Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, sê verdere ondersoek het gelei tot die arrestasie van Tenswill du Plessis (20).
Hy het Maandag 17 Oktober in die George-landdroshof verskyn en sal binne die volgende twee weke vir sy formele borgtogaansoek verskyn. Hy bly in aanhouding.
Kort ná die voorval in Garciastraat, omstreeks 23:15, is 'n 18-jarige man in hegtenis geneem in verband met die moord op 'n 34-jarige man.
Die polisie kon die oorledene se identiteit teen druktyd Woensdagoggend nog nie bevestig nie.
"Die slagoffer is onderweg na die hospitaal oorlede ná hy 'n steekwond aan sy bors opgedoen het tydens 'n aanval vroeër die aand in Figeland-straat," sê Spies.
Die jong verdagte is kort daarna in Borcherds in hegtenis geneem. Hy het Dinsdag 18 Oktober in die hof verskyn. Teen druktyd was die besonderhede rondom sy hofverskyning nog nie bekend nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'