Update
GEORGE NUUS - Die twee mans, Ruwaden Bruiners (27) en Johnick Kleinbooi (21), wat daarvan aangekla was dat hulle die 25-jarige Chané Manuel in September 2020 beroof, verkrag en vermoor het, is in die rondgaande hooggeregshof in George gevonnis.
Bruiners en Kleinbooi is albei skuldig bevind aan roof met verswarende omstandighede sowel as verkragting en moord.
Manuel se liggaam is op 17 September 2020 langs 'n treinspoor agter Buco in Nelson Mandela-rylaan gevind.
Haar hande was met 'n dun tou agter haar rug vasgemaak, 'n kous was diep in haar keel afgedruk en haar mond was met nog 'n dun tou gesnoer. Haar broek was tot op haar knieë afgetrek. Die polisie het omstreeks 02:30 daardie oggend op haar liggaam afgekom.
Vonnis
Op die aanklag van verkragting is Bruiners, wat die meesterbrein agter die voorval was, tot lewenslange tronkstraf gevonnis. Hy is ook lewenslank gevonnis vir Manuel se moord en 15 jaar direkte tronkstraf opgelê op die aanklag van roof. Sy vonnisse sal samelopend uitgedien word.
Regter Derek Wille het tydens vonnis-oplegging gesê dat hy in Bruiners se geval, geen versagtende omstandighede kon vind om van die minimum vonnisse af te wyk nie. Daar was slegs verswarende omstandighede. Bruiners het ook 'n lang lys van vorige veroordelings wat verkragting en roof insluit.
"Hy het in geen stadium tydens die verrigtinge enige berou getoon nie en het sy onskuld in die aanklagte van verkragting en moord volgehou," het Wille gesê.
Kleinbooi, wat glo Bruiners se opdragte uit vrees uitgevoer het, is tot 20 jaar direkte tronkstraf gevonnis vir die verkragting, 10 jaar vir die roof en 20 jaar op die aanklag van moord. Die vonnisse sal samelopend met die 20 jaar vir Manuel se moord, uitgedien word.
Tydens Kleinbooi se vonnisoplegging het Wille gesê dat geslagsgebaseerde geweld in Suid-Afrika 'n pandemie-status bereik het.
Hy het Kleinbooi egter minder aanspreeklik gevind vir dié spesifieke voorval en gesê dat hy [Kleinbooi] bang was vir sy medebeskuldigde.
Hoewel Kleinbooi teenwoordig was tydens die verkragting, het hy nie daaraan deelgeneem nie. Kleinbooi het ook berou getoon en het geen vorige veroordelings nie. Senior advokaat Lenro Badenhorst was vir die staat. Kleinbooi was deur advokaat Michael Sebueng van Legal Aid SA verteenwoordig en advokaat Flip Theron het Bruiners verteenwoordig.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’