GEORGE NUUS - Die Tuiniqua-versorgingsentrum nooi die publiek om twee heerlike geleenthede by die sentrum op hulle kalender aan te teken wat hulle saam met die inwoners kan geniet.
Op Vrydag 29 November word 'n Entrepreneursdag en op Donderdag 5 Desember 'n Kersete by die sentrum aangebied.
Tydens die Entrepreneursdag sal inwoners hulle handgemaakte items en kuns uitstal en verkoop. Die verkoping begin om 10:00.
"Dit is die ideale geleentheid om Kersgeskenke te koop en ons nooi die publiek om ons te kom ondersteun," sê die sentrum se bemarker, Lizelle Bergner.
Die publiek word ook genooi om in Tuiniqua se Kersete te deel op 5 Desember te deel wanneer die bekende sanger en vermaaklikheidskunstenaar, Petronel Baard gaste met haar pragtige stem en boeiende optrede gaan betower.
Dit word in Tuiniqua se Bennie Meiring-saal gehou en beloof om 'n heerlike aand vol musiek, lekker kos en goeie geselskap te wees.
"Die hoogtepunte van die aand sluit in 'n smaaklike Kersete voorberei deur ons talentvolle sjefs, Petronel se optrede, feestelike versierings en 'n warm, verwelkomende atmosfeer en ook spesiale oomblikke gedeel deur vriende en familie," sê Bergner.
Kaartjies kos R150. Moenie hierdie onvergeetlike geleentheid misloop nie. Bespreek jou plek deur Tuiniqua te kontak by 044 874 5760.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’