Volgens Brian en Aletta Simons, die eienaars van GNV, is hul mark die vierde kleinste in die land, en kompeteer hulle met 19 ander nasionale varsproduktemarkte. Wildeklawer is 'n aartappel- en uieplaas in die Noord-Kaap, en is een van die GNV se grootste kliënte. Die egpaar bedryf hul markagentskap al vir die afgelope tien jaar.
"Verlede jaar het ons goeie vordering gemaak, maar vanjaar maak ons skoonskip," het Brian gesê.
Die Simons-egpaar het altesaam 156 000 sakkies aartappels verkoop. Dit is 13% van Wildeklawer se aartappels, het Liz Badenhorst, die bemarker vir Wildeklawer se nasionale markte, aan die George Mini Ads News gesê.
"Ons gee elke jaar 'n trofee vir markagente wat uitblink met die verkoop van ons verskillende produkte. Brian-hulle wys weereens dat 'n klein mark soos die GNV een van die 'groottes' kan wees," het sy gesê.
Brian en Aletta het saam beter presteer as die markagente van die Johannesburg Nasionale Varsproduktemark - die grootste in die land, aldus Badenhorst.
Volgens Brian het hul mark tans geen plaaslike boereprodusente in George nie. Ander produkte wat ook plaaslik verkoop word, sluit in pampoen, tamaties, beet, kool, en baie aartappels uit die Sandveld, aan die Weskus. Die meeste uie kom van die Koue Bokkeveld naby Ceres, en Wildeklawer. Die boer stuur sy produkte na die GNV op sy eie onkoste, en die Simonse versprei dit dwarsdeur die Suid-Kaap.
As een van sewe privaat markte in die land, beskou die Simonse hul sukses as die resultaat van hul goeie verhouding met die boere, asook hul noue band as 'n egpaar.
"Ons is die enigste man-vrou-span wat saam 'n mark en markagentskap besit," het Aletta gesê.
"Ons werk uitstekend saam, en ons het oor die jare 'n vertrouensverhouding met die produsente opgebou. Van die boere is persoonlike vriende."
Volgens Brian is die GNV ook die enigste mark in die land wat volle BEE-status geniet. Tans is die Chinese groothandelaars hul grootste kliënt. Die Simons-egpaar het planne om 'n moderne mark in George te open. "Die munisipaliteit het grond aan ons beskikbaar gestel, maar ons wag om te hoor van die provinsiale regering vir finansiering. Dit is maar frustrerend," het Brian gesê.
Die George Markagentskap by die George Nasionale Varsproduktemark spog met hul trofee van Wildeklawer, 'n Noordkaapse produsent, as die beste aartappel-agentskap in die land. Die span verkoop tans uie van Wildeklawer (sien foto), aangesien die aartappelseisoen strek van April tot Augustus. Van links is Klaas Jooste (vragmotorbestuurder), Virgil Meyer (vurkhyseroperateur), Brian Simons (eienaar), Melissa Pieterse (administrateur), Aletta Simons (eienaar) en Mary-ló Blom (administrateur). Voor is John Makie (algemene werker). Afwesig: Phumzile Soji, 'n vragmotorbestuurder en William Notyeke, 'n algemene werker.
Foto: Michelle Pienaar