GEORGE NUUS - As Gert Niehaus, lid van die George-stadsraad, sy sin kry sal 'n munisipale verordening wat voorsiening maak dat eienaars wat met hul honde in die openbaar stap beter gepolisieer word, hersien word.
Voorts wil hy hê dat strenger boetes teen oortreders ingestel word.
Niehaus het Maandag tydens 'n raadsvergadering 'n mosie voorgestel wat voorsiening maak dat die verordening hersien word. Dit is deur die raad aanvaar en 'n werksessie moet nou daaroor plaasvind.
Niehaus het Dinsdag gesê hy is 'n diereliefhebber. Hy het niks teen diere en honde nie. Trouens, die afgelope naweek het hy en sy familie hul diere na die hondeskou in George geneem. "Ek is 'n diereliefhebber en dis waarom ek vra vir 'n aanpassing van die verordening."
Die huidige verordening is nie genoeg nie. "Daar word op die oomblik bepaal dat 'n hond aan 'n leiband in die straat moet wees. Die wetstoepassing daarvan moet baie verskerp word, want mense doen net wat hulle wil."
Volgens hom word daar elke dag mense deur honde op straat in George gebyt. "My vriendin Jules, 'n honde-afrigter, is ook deur so 'n traumatiese ervaring. Sy was meer as 'n week in die hospitaal waar sy 'n operasie moes ondergaan. Sy is ook nou vir die res van haar lewe getraumatiseerd."
Mense wat diere het en wat 'n hond inneem moet besef dit loop hand aan hand met verantwoordelikheid. "Dit word jou dierekind. Sal jy jou eenjarige kind in die straat laat speel sonder toesig? Hoekom word dit dan met jou dierekind gedoen?" wou hy weet.
"Ons is gelukkig dat daar nog nie noodlottige gevalle in George plaasgevind het nie."
Indien iemand nie met verantwoordelikheid na hul dierekind kan omsien nie, dan moet hy/sy nie een hê nie, het hy gesê.
Malinda Niehaus, Gert Niehaus se vrou, met een van die Niehause se honde, Sky, tydens verlede Saterdag se hondeskou in George.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'