Update
GEORGE NUUS - Hoewel inwoners van Touwsranten steeds rou oor die dood van klein Siyabulela Adonis wat op Saterdag 10 Oktober in Denneboomstraat doodgery is, het gemoedere gekalmeer ná onlangse onluste in dié woongebied.
Die gemeenskap voel dat die bestuurder van die Toyota Hilux-bakkie wat oor die 1-jarige kind gery het, verantwoordelik gehou moet word vir sy tragiese dood.
Die kind het blykbaar onder die wiele van die bakkie beland toe die voertuig agteruitgery het. Hy het op die toneel aan sy beserings beswyk en is deur paramedici op die toneel dood verklaar.
Woedende inwoners het 'n paar dae daarna op Woensdag 14 Oktober die strate ingevaar en bande begin brand voor 'n familielid van die bestuurder se woning in Roosmarynstraat.
Volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, is lede van George-polisie asook lede van die Openbare Orde Polisie-eenheid (Pops) omstreeks 20:00 na dié toneel in Touwsranten uitgeroep. "Skokgranate is gebruik om die skare van ongeveer 150 ontevrede gemeenskapslede uiteen te jaag waarna hulle die toneel vreedsaam verlaat het," het hy verlede week gesê.
Hulle was ontstoke omdat die bestuurder nie op die toneel in hegtenis geneem is en voor 'n hof verskyn het nie.
Op Maandag 19 Oktober het bestuurslede van die George-polisie, onder leiding van brigadier Nolan Michaels, met die gemeenskap vergader.
"Die kommer en vrese van die gemeenskap is weerlê en die samewerking tussen die polisie en die gemeenskap is herstel. Die gemeenskap verstaan ten volle wat ons mandaat is en word aangemoedig om nie in te meng nie, maar eerder toe te laat dat die wet sy gang gaan," sê Pojie.
Hy het bygevoeg dat terugvoering oor die vordering van die ondersoek direk aan die ouers gegee sal word.
Die ondersoek duur nog voort en die dossier sal aan die nasionale vervolgingsgesag voorgelê word sodra dit voltooi is. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Inwoners van Touwsranten het op Woensdag 14 Oktober die strate ingevaar en bande voor die bestuurder van die bakkie se huis gebrand. Die foto is 'n skermgreep van 'n video wat tydens die onluste geneem is. Sien die video by www.georgeherald.com
IN SHORT After taking to the streets and burning tyres on Wednesday 14 October, the mood in Touwsranten has calmed down. This comes after the tragic death of a 1-year-old toddler, Siyabulela Adonis, who was killed when a Toyota Hilux bakkie reversed over him in Denneboom Street on Saturday 10 October. Residents were up in arms because the driver of the bakkie was not arrested and did not appear in court. Since then members of the George police management, lead by Brigadier Nolan Michaels, met with residents. "The community’s fears were refuted and cooperation between Saps and the community was restored. The community fully understands what our mandate is and was urged to not interfere but to allow the law to go it’s course," said Southern Cape Spokesperson, Capt Malcolm Pojie, after the meeting last week. Feedback regarding the progress of the investigation will be provided to the bereaved parents directly.
'Ons bring jou die nuuste Mosselbaai, Tuinroete nuus'