GEORGE NUUS - Mariëtte Vorster, 'n gr. 1 onderwyser by Touwsranten VGK Primêr in Hoekwil gaan die Wes-Kaap by die nasionale onderwyserstoekennings verteenwoordig.
Die nasionale beoordeling vind vanaf 26 November tot 3 Desember in Pretoria plaas.
Vorster is op Vrydag 3 November by 'n spoggeleentheid van die Wes-Kaapse departement van onderwys (WKOD) in Kaapstad as die provinsiale wenner in haar kategorie: Uitnemendheid in Tegnologie - Verbeterde, Onderrig en Leer-afdeling aangewys.
"Toe die WKOD Touwsranten gekies het as 'n modelskool vir die e-leer-spelwisselaar in die Wes-Kaap, het ek dadelik in die proses ingekoop en my klaskamer getransformeer van 'n tradisionele gewone onderrigkamer tot 'n fasiliteit waar die toepassing van tegnologie aan die orde van die dag is."
Volgens Vorster is die perseptuele boustene vir leer van kardinale belang in die grondslagfase.
"Juis daarom moet die integrasie van informasie en kommunikasietegnologie (IKT) in die klaskamer goed beplan word."
Haar visie is om opvoeders te inspireer en aan te moedig om hul onderrig buite die boks aan te bied en die uitdagings in onderwys te oorbrug asook om onderwys te transformeer deur die toepassing van tegnologie.
"Tegnologie sal nooit 'n goeie onderwyser vervang nie, maar tegnologie is die pen en papier van ons tyd.
"Daarom sal 'n goeie onderwyser ons toekomstige leiers voorberei om te kan deelneem in ons toenemende digitale ekonomie," sê Vorster.
Die nasionale toekenningsfunksie sal op 17 Februarie 2018 plaasvind.
ARTIKEL EN FOTO: MYRON RABINOWITZ, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'