GEORGE NUUS - ‘n Video van ‘n onderonsie tussen burgerlikes en polisiebeamptes by Conville-polisiestasie het sedert gisteraand op sosiale media gesirkuleer en ‘n hewige reaksie op ‘n plaaslike Facebookgroep, Lokasies Staan Saam, ontlok. “Hugo, bel Bheki Cele,” lees een persoon se inskrywing.
Ander vra hoekom beamptes sulke wangedrag openbaar, terwyl daar hier en daar begrip getoon word vir die druk waaronder die polisie tans verkeer.
Provinsiale polisiewoordvoerder, Kapt. Malcolm Pojie, se kommentaar word afgewag.
Die beeldmateriaal toon beamptes van Conville-polisie by hul polisiekantoor, asook ‘n paar manlike burgerlikes wat na wat verneem word na die stasie geneem is nadat hulle vir die verbreking van die Covid-19 regulasies aangekeer is.
In die video, wat moontlik deur ‘n burgerlike geneem is, is die fokus op ‘n vroulike beampte wat ook ‘n video van die groepie mans neem. Een van die mans het sy ongelukkigheid uitgespreek oor die feit dat die polisiebeampte ‘n video neem.
Op ‘n stadium sê hy iets vir haar, waarna sy hom bespring. ‘n Geveg breek uit en ander beamptes slaag daarin om die twee te skei. ‘n Manlike polisiebeampte hou egter aan om die aanhitser te skop en slaan.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'