GEORGE NUUS - Herstelwerk en restourasie aan die tolhuis gaan binnekort begin. Gerda Stols, voorsitter van die Vriende van die Tolhuis, het Dinsdag gesê die Wes-Kaapse Erfenisraad het die groen lig daarvoor gegee.
Die tolhuis is een van George se geskiedkundigste geboue en is meer as 170 jaar oud. Dit is in 1845 gebou en in 1971 tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar.
Die laaste paar jaar is dit weer gerestoureer danksy pogings van Gerda Stols, voorsitter van die Vriende van die Tolhuis. Dit is egter erg beskadig tydens die brande in Oktober verlede jaar.
Stols het aan die George Herald gesê een van die eerste dinge wat aandag sal kry is die herstel van die dak.
'n Groot geleentheid word vir 24 September, Erfenisdag, beplan. Die publiek word genooi om dan self te kom kyk hoe die restourasie en herstelwerk plaasvind. Na verwagting sal dit voor die einde van die jaar voltooi wees. Betyds vir die vakansieseisoen en besoekers.
Die tolhuis se nuwe watertenk, met 'n kapasiteit van 5 000 liter is onlangs gesteel en was tussen R5 000 en R7 000 werd. Die polisieondersoek na die diefstal duur voort.
Volgens Stols het 'n instansie aangedui dat hulle moontlik sal help met 'n nuwe tenk of selfs tydelike verligting verskaf. Meer besonderhede sal later bekend gemaak word.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein Karoo nuus'