GEORGE NUUS - Die ou tolhuis in die historiese Montagupas moes sy aktiwiteite afskaal as gevolg van die tydelike sluiting van die pas. Die tolhuis, wat reeds in 1845 gebou is, is een van George se bekendste toeriste-trekpleisters.
Die Wes-Kaapse departement van Infrastruktuur het Dinsdag aan George Herald bevestig dat die pas gesluit is.
Die tolhuis, aan die begin van die pas aan die suidekant, is nou net naweke en openbare vakansiedae oop.
Kommer is die afgelope tyd deur verskeie belanghebbendes uitgespreek oor die toestand van die pas. Dit het 'n erge nadelige impak op besoekersgetalle van die tolhuis en na verneem word ook op ander toeriste-trekpleisters verder op in die berg.
Gerda Stols, voorsitter van die Vriende van die Tolhuis, het Dinsdag gesê sy het reeds die aangeleentheid onder die aandag van die Wes-Kaapse provinsiale administrasie gebring.
"Ons besoekersgetalle en inkomste het met 80% gedaal vandat padsluiting-kennisgewings by die afdraai van die Outeniquapas aangebring is. Borde en kennisgewings - meestal agente borde en magneetplakkers - word net gesteel en dit maak ons finansiële las net soveel erger."
Volgens haar is een van die personeellede van die tolhuis sy pos kwyt as gevolg van finansiële oorwegings.
Daar word nou gekyk hoe funksies en ook die Pelgrimstog wat daar verbygaan, kan help. Die afgelope naweek het 'n marathon daar verbygegaan en dit het darem ook gehelp.
Jandré Bakker, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van infrastruktuur, het gesê herstelwerk aan die pas moes gestaak word as gevolg van vloede.
"Om dit te kan herstel is meganiese toerusting nodig. Omdat sulke toerusting onder meer gebruik moet word, word dit nie beskou as "mindere werk" nie. Daarvoor word 'n "mindere werkspermit" benodig. Toestemming om dit te verkry sal deur 'n proses van Wes-Kaap Erfenis verkry moet word. Die departement is versoek om die herstelwerk beskikbaar te stel vir die permit in die middel van die maand. Dit is nie moontlik om aan te dui wanneer alles afgehandel sal wees nie."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’