GEORGE NUUS - Die toenemende verkeer op die toegangs-pad na die Groenkloof George-aftreeoord wek kommer onder inwoners hier wat wil sien dat die beplande verbreding van die pad bespoedig word.
In die lig hiervan het die voorsitters van die onderskeie inwonersverenigings van Groenkloof verlede week 'n versoekskrif, geteken deur meer as 700 inwoners, aan George-burgemeester, Leon van Wyk oorhandig.
Die ontwikkeling kan vergelyk word met 'n klein dorpie wat hier verrys het. Die pad dra deesdae verkeer van inwoners van meer as 700 voltooide eenhede, besoekers, werkers, personeel van die versorgingsafdeling en konstruksievoertuie.
'n Nuwe ontwikkeling deur Cape Estates, die ontwikkelaar van Kraaibosch Estate, het pas begin en dit bring nog meer konstruksieverkeer.
Groenkloof se ontwikkelaar, Jan Pienaar, het die pad agt jaar gelede gebou toe hy met die ontwikkeling begin het, maar inwoners meen dit het nou heeltemal ontoereikend geraak.
Van Wyk het die versoekskrif op uit-nodiging van die voorsitters by Groen-kloof ontvang. Hy het verduidelik dat die verbreding van die pad deel is van toekomstige beplanning soos vervat in die padnetwerkmeesterplan vir die Kraaibosch-gebied. Die netwerk word befonds en/of gebou deur ontwikkelaars soos hulle nuwe ontwikkelings in die gebied doen.
Ontwikkelings word egter vertraag weens onvoldoende kapasiteit van die Outeniqua-rioolwerke, wat tans uitgebrei word. Hierdie projek is aanvanklik weens kontraktuele probleme vertraag en weer later deur die Covid-19-pandemie toe internasionale reisbeperkings die invoer van sekere materiale geraak het.
Indien die rioolwerke se uitbreiding volgens plan verloop, sal die addisionele verwerkingskapasiteit in Februarie/Maart 2023 beskikbaar wees. Aangesien daar as 'n interim maatreël egter ook opgradering plaasvind aan die bestaande werke, behoort daar reeds teen einde 2022 bykomende kapasiteit te wees.
"Die konstruksie van interne dienste vir privaat ontwikkelings neem 'n aantal maande om voltooi te word en die ontwikkelaars sal toegelaat word om met konstruksie van hierdie interne dienste te begin voordat die bykomende kapasiteit beskikbaar is. Dit sal dan help dat die nuwe ontwikkelings teen einde volgende jaar op die netwerk opgekoppel kan word," het Van Wyk gesê.
Wanneer die moratorium op nuwe ontwikkeling uitgeskakel is, behoort die bou en opgradering van die beplande paaienetwerk te geskied soos ontwikkeling plaasvind.
"Die munisipaliteit dra nie finansieel by tot hierdie padnetwerk nie aangesien die paaie benodig word vir die nuwe ontwikkelings. Hulle moet self grootmaatinfrastruktuur finansier om in die bykomende vraag te voorsien. Dit is sodat die koste van konstruksie van hierdie paaie nie 'n las word vir bestaande belastingbetalers nie."
Cape Estates meen die munisipaliteit behoort openbare paaie te voorsien, net soos riool- en elektriese dienste. "Paaie is 'n fenomenale kapitale uitgawe en min ontwikkelaars kan dit bekostig. Ontwikkeling sal vinniger plaasvind en die munisipaliteit se ad infinitum belastinginkomste sal gouer groei," was hulle kommentaar.
Groenkloof sê elke ontwikkelaar dra by tot die padnetwerk volgens sy ontwikkeling(s) se rit-opwekking.
"Groenkloof is vooruitbetaal ten opsigte van padbydraes weens die lang pad wat hy van Kraaibosch Estate tot hier by Groenkloof gebou het. Die padnetwerkooreenkoms bepaal dat padbydraes gemaak moet word alvorens eiendomme in 'n ontwikkeling mag oordra en dit is vir ons belangrik dat die ooreenkoms konsekwent toegepas word om te verseker dat die paaie deurlopend aan die behoeftes van 'n groeiende gemeenskap voldoen."
Johan van Zyl, voorsitter van Die Glen se inwonersvereniging in Groenkloof, oorhandig die versoekskrif oor die ontwikkeling se toevoerpad aan George-burgemeester Leon van Wyk.
Foto's: Alida de Beer
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'