GEORGE NUUS - Glen Ontong (57), Kretzenshoop Primêr se akademiese hoof, wat Maandagaand, 20 Julie, skielik in sy slaap oorlede is, was 'n geliefde gesinsman en gerespekteerde kollega.
Ontong, ook die gr. 7B's se klason-
derwyser, was volgens Maruschka Maree, die skool se mediaskakel-beampte, bekend as 'n toegewyde opvoeder, mentor en leier wat met passie, wysheid en integriteit diens gelewer het.
Die skool het op hul Facebook-blad geskryf: "Sy liefde vir sy leerders, sy kollegas en die onderwys het 'n blywende indruk op ons skoolgemeenskap gelaat. Ons eer sy nalatenskap met dankbaarheid en sal hom altyd onthou vir die verskil wat hy in soveel mense se lewens gemaak het."
Hy was ongeveer 32 jaar verbonde aan Kretzenshoop Primêr. Voor dit het hy ook skoolgehou by Bellville-Suid Primêr en Fullerton UCC Primary in die Willowmore-distrik.
'n Emosionele Clarence, Ontong se een seun, het gesê hy kan nie alles wat hy graag oor sy pa sou wou sê, verwoord nie. Sy dood gaan 'n baie groot leemte in hul gesin laat. Hy het egter 'n gedig gedeel wat sy pa geskryf het nadat hy sy broer, Michael, in Desember 2017 aan die dood afgestaan het.
Dit weerspieël hul pa as 'n gevoelvolle man en ook die hegte bande in die gesin en breër familie.
In Memoria
Ek het 'n broer gehad - nee,
ek het 'n broer.
God het hom van aardse wee
na Sy voorbereide plek weggevoer.
Nou, in hierdie wêreld is ek en jy
wat met heimwee verlang.
Want God het gekom en hom bevry
van sy aardse gang.
Draai ver plekke, ver het hy en geliefdes
gereis na noord, suid, oos en wes.
Alles gedoen ten goede na sy bes
en altyd saamgebring in lewe
Ontongsnes.
En nou die werklikheid, die gedagte,
die pyngedagte, die dood,
wat sny soos swaard deur
mense harte.
Perfek, was hy? Nee, soos ek en jy,
maar tog, God het hy beny,
gegaan waar Hy hom lei,
'n lewe gelei met sy Skepper
aan sy sy.
Maar helaas sy gesprek met God:
"God, ek het U op aarde verheerlik,
ek het die werk wat U my gegee
het volbring - ek het dit voltooi.
En nou het U my naam geroep
en my na 'n hemelse tuiste,
'n hemelse feesmaal genooi."
Ontong laat sy vrou, Gail, Clarence en nog ’n seun, Jean Claude, ’n kleindogter, vier broers en twee susters agter.
Twee troosdienste word op Saterdag 1 Augustus gehou: om 08:45 by die huis by Van Rooyenstraat 12, Conville, en om 10:00 by die Nuwe Apostoliese Kerk in Conville (Kwartelstraat 6).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’