Update
GEORGE NUUS - Die tienerseun van Maraiskamp, Imogan Scholtz (16), wat verlede Dinsdagaand doodgeskok het by 'n stukkende ligpaal in die area, word Saterdag begrawe.
Imogan, wat vanjaar in gr. 10 aan Parkdene Sekondêr was, word om 09:00 uit sy grootouers se huis in 21210 Geelbekstraat begrawe met 'n diens om 10:00 uit Parkdene Sekondêr se skoolsaal.
Hy het in reënweer geskok nadat hy in aanraking gekom het met 'n ligpaal op die hoek van Valk- en Kwartelstrate. Die ligpaal is dae voor die voorval beskadig en was nie beveilig ten tyde van die voorval nie.
Die Conville-polisie het 'n dossier vir 'n geregtelike doodsondersoek geopen.
Een van Imogan se vriende wat saam met hom was, sê hulle was op pad huis toe nadat hulle 'n familielid na haar huis toe weggeneem het.
"Ons het gelag en gespeel toe ons om die draai kom, ek was net 'n paar tree voor hom. Die volgende oomblik het hy my geroep, en aanvanklik het ek gedink hy speel. Toe sien ek sy gesig en besef hy sit aan die paal vas. Ek het probeer om hom af te trek, maar kon nie, en ek het weer probeer, terwyl ek ook geskok het. Inwoners in die straat het ons kom help, en 'n paartjie het hom na die hospitaal geneem terwyl ek huis toe gehardloop het om sy ouma te vertel wat gebeur het," het sy vriend aan George Herald gesê.
Dit is onduidelik of Imogan teen die paal geleun het, of dit slegs in die verbygaan aangeraak het. Die ligpaal is die vorige naweek deur vandale beskadig, en die saak is na bewering aan die George-munisipaliteit gerapporteer, maar nie reggemaak tot ná die voorval nie.
Ntobeko Mangqwengqwe, senior kommunikasiebeampte by die George-munisipaliteit, het by navraag gesê hulle is bewus van die voorval, maar kan weens die polisieondersoek nie inligting verskaf nie, omdat dit moontlik met die ondersoek kan inmeng.
Wyle Imogan Scholtz (16)
Imogan het by sy ouma en oupa, Ilsa en Neil Sysaar, gewoon. Tydens 'n besoek aan die gesinswoning was beide ouma en oupa duidelik aangedaan, diep emosies sigbaar terwyl hulle foto's geruil het en herinneringe van Imogan opgehaal het.
Sy ma, Laurika Maletta, het haar seun as 'n liefdevolle seun en diereliefhebber beskryf.
Imogan se vriende onthou hom as die gehoorsaamste in hul vriendekring, die een wat hulle die regte pad gewys het.
Lees 'n vorige artikel: Teenager electrocuted while passing vandalised light pole
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’