GEORGE NUUS - Vier persone is in hegtenis geneem nadat 'n tienermeisie vannag deur 'n groep mans tydens 'n huisroof ontvoer is.
Voorlopige inligting dui daarop dat die slagoffer saam met vriende en familie by 'n huis in New Dawnpark was, toe die mans die huis binnestorm.
Die verdagtes het na bewering selfone en 'n skootrekenaar gesteel en die meisie saam met hulle geneem.
Hulle het glo te voet deur die bosse oor die Schaapkoprivier met haar geloop tot in Thembalethu waarna sy verkrag is.
Sy het later vanoggend weer te voet by die huis aangekom nadat sy vrygelaat is.
Die Pacaltsdorp-polisie ondersoek 'n saak van ontvoering en verkragting.
In nog 'n voorval gisteraand is 'n vrou in Seaview, ook in Pacaltsdorp, deur twee mans oorval en verkrag.
Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Beide slagoffers is na die hospitaal geneem vir mediese behandeling.
Die ondersoeke duur voort.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'