Agt busse, asook ‘n bakkie van die George-polisie wat by ‘n ongelukstoneel van ‘n onpadwaardige Intercape-bus betrokke was, is vandeesweek van die pad afgehaal.
Die ongeluk het Maandagoggend in die Outeniquapas plaasgevind toe die bus se remme probleme begin gee en die bestuur-der die bus teen die rotswande aan die kant van die pad moes druk om sy spoed te breek.
Geen passasiers was op die bus nie en geen ander voertuie was betrokke nie.
Drie van die busse wat opgeskort is, behoort aan SA Roadlink en is by die munisipale toetsstasie in Hiberniastraat geparkeer. Die busse mag nie verder be-stuur word nie weens die erns van die foute aan die voertuie.
Die busse het teen Dinsdag nog by die toetsstasie gestaan. Dit is onduidelik wanneer SA Roadlink die busse gaan laat wegsleep om die foute te laat herstel.
Mnr. Gerald Becker, hoof van provinsiale verkeer in Oudtshoorn, het Maandag gesê die foute op al tien busse wissel van foutiewe ligte en gekraakte voorruite tot lewensgevaarlike foute soos gladde bande, foutiewe remme, deure wat in die ry oopgaan en olielekkasies.
Een van die busse wat aan SA Roadlink behoort, se skokbrekers was met ’n tou vasgemaak nadat dit Saterdag uit die Oos-Kaap gestuur is om passasiers op George te kom haal. Die passasiers was op ‘n ander SA Roadlink-bus wat Vrydagnag van die pad afgetrek is met foutiewe remme.
Sondagoggend is nog ‘n bus van SA Roadllink met foutiewe remme afgetrek en moes passasiers weer ure wag vir ander vervoer.
Die ander busse wat afgehaal is, behoort aan Intercape en een aan TF Services van Groot-Brakrivier, City to City, CK Tours, Toots Coaches, en Hilton Ross.
Die eienaars van dié busse het die pro-bleme op die voertuie laat regmaak en die voertuie weer deur die gratis padwaardigheidstoets laat sit.
Al die busse is afgetrek tydens roetine-ondersoeke.
Gedurende Desember is altesaam 32 voer-tuie by die munisipale toetsstasie opgeskort - 13 daarvan was busse.
Een van die verkeersbeamptes sê daar moet nou sonder genade opgetree word teen ondernemings wat met mense se le-wens dobbel deur hulle op hierdie "doods-kiste" te vervoer.
Dit blyk ook dat passasiers nie juis ‘n ander keuse het as om met sekere van die busdienste te ry nie, omdat hul buskaartjies goedkoper is.
Roadlink se probleme
kom ‘n lang pad
SA Roadlink is sedert Julie verlede jaar in omstredenheid gedompel oor hul busse nadat sewe mense dood is toe een van hul busse buite Beaufort-Wes in ’n ongeluk betrokke was.
Verkeersbeamptes van Worcester het Saterdag ‘n busbestuurder (45) van SA Roadlink in hegtenis geneem vir dronkbestuur. Die bestuurder was met 72 passasiers onderweg na Johannesburg.
In ‘n persverklaring sê SA Roadlink dat die man tydelik geskors is hangend die uitslag van ’n dissiplinêre ondersoek.
Me. Lumka Olifant van SA Roadlink het gister gesê hulle spandeer baie geld om seker te maak hul busse is veilig en hou vol dit is die geval.
Werkers los busse net so
Die busbestuurders en ‘n buswaardin, wat al sedert Saterdag op George was, het Maandag uit frustrasie op hul eie onkoste op ‘n ander bus geklim om huis toe te gaan. Talle oproepe van die werkers na die busdiens om inligting te kry oor wat hulle volgende moet doen, was onsuksesvol en hul verblyf by ‘n plaaslike gastehuis is ook gekanselleer deur die busdiens.
Provinsiale Verkeer wil graag die lisensie-afdeling en toetsbeamptes by die munisipale toetsstasie asook die Safe Drive toetsstasie in Binnestraat bedank vir die uitstekende diens wat hulle lewer.
Artikel en foto's: Lizette da Silva

Dié vrou en haar seuntjie was op die SA Roadlink-bus wat Sondag afgetrek is. Sy sê hulle kom van Durban af en moes sewe ure in Oos-London ook wag nadat hul bus gebreek het.