Volgens sy vrou, Sylvia, staan Thersius se hande vir niks verkeerd wanneer dit by houtwerk, handwerk of tuinwerk kom nie.
Hy vind innoverende oplossings om tuin te maak ten spyte van die ongelyk erf. Weens die skuinste en oormaat onkruid wat groei op die aangrensende erf het Thersius sy hande vol om vloedwater op te vang en erosie te voorkom. Hy bekamp erosie deur herwinde koeldrankbottels in dwars rye regoor die groentetuin te plant, en sodoende terrasse te vorm wat grondverlies voorkom.
Sonder vrugbare en gesonde grond kan niks groei nie. In die woorde van Gandhi: "Om te vergeet hoe om grond te versorg, is om te vergeet wie ons is."
Die vrugbare bogrond waarin geplant kan word, bevat teelaarde (humus) wat bestaan uit ontbinde plante, goggas en bakterieë. Wanneer die kosbare teelaarde wegspoel, wegwaai of weggeploeg word, is dit soos 'n mens wat sy vel verloor. Blootgestelde grond verdor en verloor voedingswaarde. In dele van George is bogrond reeds baie dun en lê dit telkens op 'n laag harde kleigrond wat tuinmakers se werk kompliseer. Dit is dus uiters belangrik om bogrond aktief op te bou. Grond kan knus onder 'n laag blare, bas, strooi en lewendige grondbedekkers beskerm word en sodoende word waterverbruik ook verminder.
Bou 'n organiese komposhoop en dink twee keer voor jy weer die bedding "skoonhark". Gesonde grond is die eerste stap tot voedselsekuriteit. Chris Godfrey, op die komitee van Wessa (Wildlife and Environmental Society of SA), voel dis noodsaaklik om vir mense eenvoudige tegnieke te wys om die grond gesond te hou en te verseker dat die oes oorvloedig bly. Een van hierdie metodes is tuinmaak-sonder-spit ('no dig gardening').
"'n Mens het werklik nie 'n tuinvurk nodig in jou groentetuin nie. Soveel mense word onnodig van tuinmaak afgeskrik oor hulle fisies nie kans sien vir die spitwerk nie."
'n Mens hoef nie eers gras of onkruid te verwyder van 'n area wat jy beoog om vir 'n bedding te gebruik nie. 'n Paar lae nat karton smoor die gras en plante wat dan later as die eerste kompos en teelaarde vir jou nuwe bedding dien. As jy haar nie glo nie, kom gerus na die 'geen-spit'-bedding wat op die Blanco-kliniek se gronde staan, en waarin pragtige mielies en boontjies pronk.
Of gaan besigtig eerskomende Saterdag Wessa se demonstrasie by die Outeniquamark. Daar kan jy meer uitvind oor grondskepping, kompostering, kweek van natuurlike pesbeheerders, die oes van reënwater en dou, energiebesparing, herwinning, sonkrag en so meer.
Vir meer inligting oor Kos en Fynbos, die tuinmaakkompetisie in Blanco en Wessa se uitstalling by die Outeniquamark op 14 Desember, skakel gerus vir Chris Godfrey by 083 500 3090.
Thersius Caffoen met preie, skorsies, wortels en beet wat uit sy tuin kom. Hy het ook blomplante en rose in sy tuin.
'Ons bring jou die nuutste George | Tuinroete nuus'