Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Sommige ouers en onderwysers se vrese en ander kwessies oor die infasering van nuwe grade het daartoe gelei dat die Nasionale Professionele Onderwysers-organisasie van Suid-Afrika (Naptosa) 'n protesaksie gevra het vir verlede Vrydag en die afgelope Maandag.
Ockie van Niekerk van Naptosa Wes-Kaap sê enigiemand kon deelneem, onderwysers asook nie-onderwyspersoneel.
Die protesaksie was om te wys hulle is ernstig daaroor dat die infasering van nuwe grade vertraag of uitgestel moet word.
Verskeie skole het Vrydagoggend deelgeneem en ander het Maandag hul ondersteuning gewys deur met plakkate buite van die skole te staan.
Hoërskool George
Daar was ook protesaksie by Hoërskool George, wat deur die skool se ouers gereël is. George Herald se Michelle Pienaar was Maandagoggend daar om na hul kwessies te luister. Lawrence Andries, die voorsitter van die skool se beheerraad, sê hulle wou dit duidelik maak dat hulle niemand sou inlaat alvorens 'n verteenwoordiger van die WKOD nie na hulle luister nie.
Kyk 'n video hieronder
"Te min klaskamers, te min badkamers en te min onderwysers," sê Andries.
Hy sê nadat hulle in gesprek was met die kringbestuurder, Koos Eksteen, is ooreengekom dat vier assistent-onderwysers aangestel gaan word, die beheerraad gaan steeds let op sosiale afstande en die hoof, Morton van Rooyen, het ingestem dat die kunslokale gebruik kan word en dat daar twee toilette vir die seuns en dogters is. Andries sê verder alle leerders is Maandag huis toe gestuur, terwyl onderwysers steeds by die skool was.
"Ons, saam met die ondersteuning van ouers gaan kyk of die veranderinge 'n verskil kan maak. Dan gaan ons weer vorentoe kyk na die kwessies en veral sosiale afstand."
Van Rooyen het ook bevestig dat die skool wel gereed is om die gr. 11-leerders te ontvang.
New Dawn Park Primêr
By New Dawn Park Primêr waar protesaksie verwag is, was alles normaal en het die skool hul gr. R en 6-leerders terug verwelkom.
Ruth Muller, die waarnemende hoof, sê hulle moes te midde die verwarring dat alle grondslagfase grade terug sou kom, inspring en maatreëls in plek sit. "Dus is ons gereed vir ons leerders. Ons sal ook nie ander grondslagfase leerders wegwys wie se ouers hulle skool toe stuur nie."
Hoërskool Pacaltsdorp
Volgens Clifton Titus, hoof van Hoërskool Pacaltsdorp, was sy skool gereed om die gr. 11-leerders terug te ontvang. "Ons het 176 gr. 11-leerders en elke klas is in twee groepe verdeel. Ons het ook genoegsame voorbereiding getref, en ons program gaan voort soos beplan."
Pacaltsdorp Primêr
Pacaltsdorp Primêr se hoof, Randall Ohlson, sê hulle het mooi beplan vir hul kleiner grade. Slegs 50% van die leerders per graad gaan per dag, elke alternatiewe dag, by die skool wees.
"Ons hoop die ander grade kan ook so glad inskakel."
Ander skole
Dit was ook stil by skole in Thembalethu, waar daar geen protesaksie Maandagoggend was nie en klasse het normaal verloop.
Skole in Blanco het normaal voortgegaan, daar was ook geen onderbrekings of protesaksie nie.
WKOD
Bronagh Hammond, die kommunikasiedirekteur van die WKOD, sê hulle is ingelig oor protesaksies, maar dié waarvan hulle bewus was, was op 'n kleiner skaal. "Elke dag is daar sowat
1 500 skole wat normaal voortgaan sonder enige onderbrekings. Leerders, onderwysers en nie-onderwyspersoneel voel so veilig soos wat hulle kan, gedurende die ongewone tyd."
Hammond sê die departement sal steeds kyk na die unie se kwessies, as 'n publieke diensleweraar wat 'n rol het om te vervul, in 'n omgewing wat so veilig as moontlik is onder abnormale omstandighede.
Onderwysers by St. Mary's was in swart geklee in solidariteit met die pleit dat infasering van nuwe grade vertraag moet word.
Suenay-Leigh Minnie (5) gr. R, daag op by Dellville Park Primêr, saam met haar ma, Fransoline. Die skool het 'n proeflopie gehad oor die moets en moenies en dis mooi aan almal verduidelik.
'n Onderwyser in die grondslagfase by New Dawn Park Primêr, het Maandagoggend gr. R-leerders by die skool verwelkom. Die skoolhoof Ruth Miller, het bevestig dat alles hier normaal was.
Vorige artikel: Skole verwelkom nog leerders terug
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'