GEORGE NUUS - Gerugte van 'n taxi, sonder sitplekke, wat Sondag na bewering twee seuns in afsonderlike gevalle in George-Oos wou ontvoer, het sosiale netwerke aan die gons gehad. Volgens 'n stemboodskap wat op WhatsApp versprei is, is die kinders na bewering in die voertuig probeer dwing.
Die pogings was onsuksesvol en die seuns kon hulle beweerde ontvoerder(s) vryspring.
Die voertuig is kort daarna deur die polisie opgespoor. Volgens kapt. Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, word die bestuurder van die voertuig in hierdie stadium met geen misdaad verbind nie.
"Ons dra kennis van die boodskappe wat die ronde op sosiale media doen, maar geen saak is hoegenaamd aanhangig gemaak volgens ons rekords nie. Na die storie rugbaar geword het, het ons dadelik opvolgwerk gedoen en kon ons vasstel wie die eienaar asook die bestuurder van die voertuig is," sê hy.
Hy bedank die publiek vir hul bereidwilligheid, maar sê ook die polisie moet dadelik in kennis gestel word van verdagte of vreemde voertuie wat in woonbuurte opgemerk word.
"Mense moet ook nie die reg in hul eie hande probeer neem nie en die polisie en sekerheidspersoneel die geleentheid gee om alle relevante inligting op te volg en te bevestig."
'n Taxi verskyn in 'n skermgreep van kringtelevisiebeeldmateriaal wat Sondagmiddag in George-Oos geneem is.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'