GEORGE NUUS - Sewentig poppies wat deur tannie Sarie Notley (82) en haar vriendinne van Tuiniqua gebrei is, het Woensdag 29 Julie nuwe eienaars in George-hospitaal se kindersaal gevind.
Tannie Sarie is deel van 'n kuns- en kuiergroep wat elke tweede Woensdag by die Bergsig-gemeente bymekaarkom vir presies dit - kunstige handewerk en 'n lekker koppie tee.
Die poppies van dié groep, saam met 50 bakkies tuisgemaakte sop en toebroodjies wat deur Marietjie Schaaf en haar span van VLV Blanco-tak voorberei is, vorm deel van 'n gesamentlike Mandeladag-uitreik na pasiënte in George-hospitaal.
VLV Blanco-tak doen maandeliks gemeenskapswerk in verskeie areas van die George-gemeenskap. Vir meer inligting kontak Marietjie Schaaf by 072 618 0515.
VLV Blanco-tak: In die groep is (van links) Alice Burts, Marie Joubert, Marietjie Schaaf en Petro van Niekerk.
Sop broodjies en 'n hartlike uitnodiging.
Lewe met 'n bosbouer
Tydens die fotosessie by tannie Sarie se huis in Tuiniqua kon 'n mens nie anders as om te gesels oor haar lewenspad nie.
Sy en haar man, Tappie Notley (82), is 61 jaar getroud. Sy volle naam mag 'n mens nie sê nie, want dit is baie lank en Engels. Oom Tappie is gebore en getoë in Prins Albert, "daar waar die Engelse onderwyser die klas in Afrikaans gee", spot tannie Sarie.
Die Notley-egpaar op hul troudag, 8 Januarie, 61-jaar gelede.
Sy het grootgeword in Swaziland, op 16 gematrikuleer en daarna onderwys studeer.
"Ek het twee jaar onderwys gegee - die laaste jaar by Amsterdam Hoër Landbouskool in Mpumalanga. Die kinders het my op gehad," het sy vertel. "Die een seun het vir my gesê: 'Ag juffrou, los die huiswerk, dan gaan fliek ons liewers Saterdag'."
Met haar verloofde wat 'n bosbouer was, en ver van haar gewoon het, het haar huwelik met Tappie vinnig gekom. "Ek het Tappie daarna gehelp as boekhouklerk.
"Ons het na 11 plantasies oor die jare getrek. Die laaste een in Sabie, naby Nelspruit."
Met hul drie kinders wat oorsee woon spandeer die Notley-egpaar hul goue jare in George.
Vir meer inligting oor die kuns- en kuiergroep, kontak Adelina Coleman by 082 298 0362.
Omring deur handewerk!
Tannie Sarie Notley en haar man, Tappie. Beide is 82 jaar oud en hulle is 61 jaar getroud. Foto's: Michelle Pienaar
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’