GEORGE NUUS - Sy hou die aktiwiteitsprogram by Tuiniqua-versorgingsentrum met arendsoë dop en mis selde 'n sosiale geleentheid.
Dit was egter tannie Martie Norman se beurt om die middelpunt van die vieringe by die sentrum te wees toe sy onlangs 100 geword het.
Tannie Martie is reeds meer as 20 jaar deel van Tuiniqua, en sy bly deel van die sosiale kalender hier.
Sy stap nog kort afstande met haar stootkarretjie, lees, kyk TV en hou daarvan om mooi uitgevat te wees. Sy het altyd geskilder en pottebakkery gedoen. Sy glo dat 'n mens moet bly belangstel in die dinge om jou.
Tuiniqua se hoof, Alani Voigt, het in haar gelukgewensing gesê Tannie Martie word waardeer vir die wysheid, vriendelikheid en warmte wat sy deur die jare met almal gedeel het.
Tannie Martie is op 23 Oktober 1926 in Angola gebore. Haar familie was deel van die Dorslandtrekkers wat hulle in Namibië gevestig het.
Haar ma is oorlede toe sy nege was. Daarna het koshuisjare en vakansies by verskillende familielede gevolg. Later het sy in Kaapstad op 'n wynplaas gewerk. Sy het haar man, Bill, ontmoet in die losieshuis waar hulle albei gewoon het, en hulle is in 1950 getroud.
Die egpaar het ná jare se rondtrek in George afgetree. Hulle was bykans sewe dekades saam voordat hy in 2019 oorlede is. Sy het daarna by Tuiniqua aangebly.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’