GEORGE NUUS - George se Vryburgers het die afgelope Saterdag, 13 April, vir net meer as 700 seniors gebraai tydens die landwye Tamaaibraai wat die diensorganisasie aangebied het.
Daar was 'n span braaiers by ses sentrums vir seniors: ACVV Harmonie, Huis JJ Watson, Rosemoor-tehuis, Tuiniqua, Bergville-aftreeoord, en Huis Jacobsz in Hoekwil. Daar is 66 kg wors, 48 kg sosaties en 98 kg tjops gebraai.
Terwyl die vure hoog gebrand het en die vleis later op die roosters was, kon die seniors aan speletjies deelneem.
"Dis vir ons heerlik om die senior burgers bietjie te bederf. Vir baie van hulle is dit die enigste braai van die jaar wat hulle kan geniet.
"Soveel seniors se kinders is deesdae oorsee of woon ver en hulle het niemand wat vir hulle kan braai nie," het Hildred Basset, die George-korps se voorsitter, gesê.
"Ons vind dis 'n geleentheid wat die seniors vreeslik geniet want hulle kuier bietjie en leer mekaar beter ken op 'n sosiale vlak."
Landwyd is daar vir ongeveer 3 000 seniors gebraai. George was die korps wat vir die meeste mense gebraai het.
VIDEO: Alida de Beer
Die braaiers wat Tuiniqua se vleis gaargemaak het, van links: Sas du Plessis, Casper de Waal, Marlize van der Walt, Gerhard van der Walt en Christo Louw (organiseerder van Tamaaibraai 2024). Foto verskaf
Inwoners van Huis Harmonie het Bingo gespeel onder aanvoering van Izel van Rooy terwyl die manne gebraai het.
Engela Basset van die Vryburgers en Johanna van Wyk (85), 'n inwoner van Huis Harmonie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’