Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Hy was 'n saggeaarde kind wat altyd 'n grappie of twee gehad het en hy het vreeslik uitgesien na sy hoërskoolloopbaan. Nou is sy skoolbank leeg.
Brendon Booyse (12) se jong lewe is op 24 Junie omstreeks 18:20 kortgeknip toe hy in Brucestraat, Borcherds, doodgesteek is.
Die verdagte, 'n 11-jarige seun, is kort daarna in hegtenis geneem, maar in die sorg van sy ouers vrygelaat.
Brendon, 'n gr. 7-leerder aan Heidedal Primêr, moes albei sy ouers en sy pleegma op 'n jong ouderdom aan die dood afstaan.
"Hy was maar ses jaar oud toe hy in 2013 by my kom bly het," vertel sy ouma, Steyn Booyse.
"Hy was 'n goeie kind. Altyd vol grappies en hy het hard gewerk op skool. Hy het 'n plan gehad met sy lewe en het vreeslik uitgesien daarna om volgende jaar hoërskool toe te gaan."
Sy tannie, Claudia Tekana, vertel dat hy 'n skugter kind was wat nie by "bendes en sulke goed" betrokke was nie.
"Die wrede manier waarop hy van ons weggeneem is, is vir ons die moeilikste om te aanvaar," het sy Woensdagmiddag tydens 'n intieme roudiens by sy ouma se huis gesê.
Brendon Booyse (12) was lief vir skool en het uitgesien daarna om aanstaande jaar by Hoërskool George aan te sluit.
Kyk 'n video hieronder:
Skoolmaats groet Brendon met blomme
Sowat 130 gr. 7-leerders en onderwysers van Heidedal Primêr het Woensdagmiddag, 1 Julie, hul medelye betoon deur blomme en briefies voor die Booyse se huis in Galantstraat te plaas. "Hy was 'n rustige kind en het nie 'n enkele dag by die skool gemis nie. Hy het altyd sy volle samewerking gegee en dit was 'n plesier om hom by ons te hê," het die skoolhoof, Irvin Scheepers gesê.
Fotogalery: Laaste vaarwel vir Brendon
Sy twee oumas, Steyn Booyse (links) en Catherine Jacobs ver regs is dit eens dat hulle Brendon se lag en grappies die meeste gaan mis. Sy tannie, Claudia Tekana (middel) sê hy was 'n goeie, rustige kind. Foto: Kristy Kolberg
MUST INLAS - Jong Brendon Booyse sal met liefde deur sy familie onthou word. Foto: Kristy Kolberg
Die voorval
Volgens die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, dui voorlopige inligting daarop dat Brendon en die verdagte woorde gehad het waarna hy gesteek is.
"Die slagoffer het 'n steekwond aan die nek opgedoen en is later op die toneel deur paramedici dood verklaar," het hy gesê.
Die 11-jarige seun wat in verband met die voorval in hegtenis geneem is, sou Dinsdag 30 Junie in die hof te verskyn. Die saak is egter uitgestel tot volledige assessering van die seun afgehandel is.
Begrafnisreëlings
'n Huisdiens word Saterdagoggend, 4 Julie, by sy ouma se huis in Galantstraat gehou waarna die begrafnis by die George-begraafplaas in Yorkstraat sal plaasvind.
Heidedal Primêr se skoolhoof, Irvin Scheepers, tydens die kranslegging. Foto: Kristy Kolberg
Brendon se skoolbank by Heidedal Primêr is nou leeg.
Vorige artikel: Child allegedly stabbed to death by peer
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'