GEORGE NUUS - 'n Huisvrou van Bergsig is byna uit R1 800 gekul deur 'n swendelaar, wat haarself as haar huishulp se suster voorgedoen het. Die huisvrou, wat verkies om anoniem te bly omdat sy bang is sy word geteiken, se huishulp werk sekere dae van die week by haar en ander dae by ander huise.
Op Woensdag 14 November, 'n dag wat haar huishulp nie by haar gewerk het nie, het die swendelaar by die vrou se huis aangeklop.
"Sy het my vertel sy is my huishulp se suster. Dié was glo in die tronk vir dwelms of iets en sy het R1 800 vir borgtog nodig gehad. Sy was baie oortuigend en het alles van my huishulp af geweet. Tot in die fynste besonderhede. Om die waarheid te sê, ek was al op pad na my kamer toe om die geld te gaan haal, toe ek 'n tweede keer daaroor dink," sê sy.
Volgens haar is haar huishulp 'n vreeslike Christelike mens en sal sy nooit by iets soos dwelms betrokke raak nie. Die vrou het snuf in die neus gekry na sy die jong vrou uitgevra oor die besonderhede rondom die inhegtenisname.
"Sy het haarself vasgelieg. Ek het my huishulp twee keer probeer bel om te hoor wat aangaan, maar sy het nie opgetel nie. Toe moes ek hoor dat ek haar nie in die hande sou kry nie, omdat haar foon afgevat is."
Volgens die huisvrou is die swendelaar 'n jongerige vrou wat vir haar swanger voorgekom het.
"My huishulp het gelukkig die twee missed calls van my af op haar foon gesien en my dadelik teruggeskakel. Ek het haar gevra waar sy was en of alles reg was. Sy het my gerusgestel en gesê sy is by haar werk en was nooit in die tronk nie."
Die jong swendelaar het haarself daarna blitsvinnig uit die voete gemaak.
"Ek wou nog die polisie bel, maar ek was laat vir 'n afspraak en baie haastig. Ek wil net almal waarsku teen die vrou. Gelukkig het my man in die tuin gewerk. As hy nie daar was nie, kon dit 'n baie lelike nadraai gehad het," sê sy.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'