RUGBY NUUS - Al het die SWD Eagirls reeds 'n tuis halfeindstryd in die sakkie, benader die span sy volgende wedstryd op Saterdag 22 Julie teen Limpopo Blou Bulle in die eerste divisie van die Curriebekerreeks, met groot erns. Dis 'n wegwedstryd.
Die SWD Eagirls speel op 29 Julie in 'n halfeindstryd op Outeniquapark. Hul teenstander moet nog bepaal word. Wen die Eagirls daardie wedstryd speel die span op 5 Augustus in die eindstryd.
Tot dusver het dit baie goed gegaan met die Eagirls. Die span het ses wedstryde agter die rug waarvan hulle vyf gewen het en net een teen die Cheetahs verloor het.
Die afgelope Saterdag, 15 Julie, het die Eagirls die span van Griekwas met 69 - 15 op Windhoek Draught Park, Kimberley geklop. Die rustydtelling was 36 - 0.
Die speler van die wedstryd was Euphinia (Noenkers) Fillis.
Elize Arendse, afrigter van die Eagirls, het Maandag gesê in Saterdag se wedstryd was die eerste 20 minute moeilik om aan die gang te kom, maar dit was nie die moeilikste wedstryd van die seisoen nie.
Sy wou nie die wedstryd teen Limpopo Blou Bulle vooruitloop nie. Sy het bygevoeg: "Ons wil hard uitgaan en wen."
Volgens haar wil die span Saterdag se wedstryd wen al het hy reeds 'n halfeindstryd verseker.
Fillis, wat gewoonlik flank speel, maar die afgelope twee wedstryde as slot ingespan is, het gesê sy geniet die rugby baie. Dit gaan nie oor haar nie. Een van die redes vir die span se sukses is dissipline. Die span is ook 'n eenheid.
Saterdag se wedstryd was nie baie hard nie en daar was kommunikasie tussen die spelers. Sy vra altyd die Here om die span vooruit te gaan. "Ons is 'n trotse SWD Eagle-familie."
Ben Brinkhuis, president van SWD-rugby, het gesê die unie is trots op die span. "Ek is tevrede met die span se vertoning."
Euphinia (Noenkers) Fillis
Puntemakers in die wedstryd teen Griekwas:
Drieë gedruk:
- Chante Jonck (2)
- Shannon Windvogel (3)
- Nicole Flandorff
- Siviwe Basweni
- Amanda Klassen (2)
- Lequita Cornelius
- Britney Williams
Doelskoppe:
- Antonecia Hannies (7)
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’