GEORGE NUUS - Die beheerliggaam van die Heidedal Primêr in Borcherds is moedeloos weens ‘n stukkende heining wat die Wes-Kaapse departement van onderwys (WKDO) al vir twee jaar sloer om te herstel.
Die heining loop rondom die sportterrein wat normaalweg ook dien as die speelarea vir die meer as 1 500 leerlinge.
Die sportterrein, wat die grootste gedeelte van die skool se perseel uitmaak, kan nou glad nie gebruik word nie omdat die kinders aan onsmaaklike lede van die publiek blootgestel word.
Omdat die publiek nou deur die sportterrein kan loop ontstaan daar soms konflik met die onderwysers en daar is ook gevalle waar kinders deur straathonde geteister word of selfs waar kinders hul voete op stukkende drankbottels sny.
“Ons is reeds in ‘n hoë risiko area wat misdaad betref, en die stukkende heining dra verder daartoe by dat ons kinders aan ongewenste karakters blootgestel word,” sê Lionel Coetzee, ondervoorsitter van die beheerliggaam.
Hy sê die heining is afgebreek weens vandalisme, maar mettertyd het die wind en weer die heining verder beskadig.
“Die WKDO moet die heining herstel. Goedkeuring is reeds vantevore gegee, maar die proses word die heeltyd vertraag.
Dit is nou al meer as ‘n jaar wat ons die hek na die sportterrein moes sluit, want ons kan nie die kinders aan daardie area blootstel nie. Die kinders moet nou in die administratiewe blok speel, maar daar is te min spasie,” sê Coetzee.
Die beheerliggaam sê hulle is moeg gesukkel met die WKDO wat na hul mening net in sirkels praat en geen konkrete terugvoer gee oor wanneer die heining herstel gaan word nie.
“Prioritiseer ‘n slag vir Heidedal,” sê Coetzee wat duidelik moedeloos is oor hoe om ‘n veilige omgewing vir hul kinders te skep.
WKOD reageer
In reaksie op ’n medianavraag het die WKDO gereageer deur te sê:
“Laerskool Heidedal was op die lys vir 'n nuwe heining in die 2023/24 boekjaar, maar dit kon ongelukkig nie geïmplementeer word nie weens begrotingsbesnoeiings. Die departement kyk na die moontlikheid om noodherstelwerk te doen om sekuriteit by die skool te verbeter.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’