Gallery
GEORGE NUUS - Leerders van Kretzenshoop Primêr in Blanco het die pad gevat met plakkate, slagspreuke en 'n ferm houding om hul gevoel te wys jeens geweld teen vroue en kinders.
GALERY: 16 Dae van aktivisme: Kretzenshoop Primêr betoog vreedsaam met plakkate
Al die pad langs Georgeweg, vanaf die laerskool, deur Golden Valley en weer terug na hul sportveld kon inwoners die woorde hoor: "Stop die boelies."
Verskeie rolspelers het verlede Donderdag, 28 November, by die groep aangesluit, waaronder Badisa, SANParke, die polisie, George-munisipaliteit en die departement van sosiale ontwikkeling.
Ingrid Pooko, maatskaplike werk toesighouer van die departement van sosiale ontwikkeling, het die kinders daarop gewys dat hulle enige tyd die tolvrye nommer 0800 220 250 kan bel vir hulp. "Jy is spesiaal en jy het die reg om veilig te voel," het sy gesê.
George-burgemeester, Jackie von Brandis, het vir die woelige klomp gesê daar is 'n 80% kans dat, wanneer ons seerkry, dit aan die hand is van iemand wat ons ken.
Die kletsrymers Franky T en Henrico Leukes 'Big Don' het gesorg vir groot plesier met hul kindervriendelike ritmes en klanke.
Cedo Stellenberg (13) het sommer ingespring en saam met Leukes gekletsrym op die ritme van Dance Hall, of Jamaikaanse rapmusiek, soos die genre bekendstaan.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’