Update
GEORGE NUUS - Die piepklein stompkopkewers, wat moeilik sigbaar is met die blote oog, beskadig steeds bome in George. Natuurkenners het dit Maandag aan George Herald bevestig.
Die stompkopkewer (PSHB) en sy simbiotiese swam saai al van 2018 verwoesting onder bome in George, Mosselbaai en Knysna.
Die Universiteit van Stellenbosch het verlede week in 'n verklaring gewaarsku dat die potensiële impak van die stompkopkewer (polyphagous shot hole borer) op die ekonomie van Suid-Afrika, 'n yslike R275 miljard oor die volgende tien jaar kan beloop, en munisipaliteite sal hierdie las moet dra indien niks gedoen word om hierdie indringer te stuit nie.
Indien niks gedoen word om die verspreiding van die kewer te keer nie, gaan 65 miljoen bome na raming verwyder en tot niet gemaak moet word.
Die DA het ook by monde van Dave Bryant, 'n parlementslid, 'n beroep op Barbara Creecy, minister van bosbou, visserye en omgewing gedoen om dringende leiding oor die aangeleentheid te verskaf.
Volgens Bryant het die party met kommer kennis geneem wat die bedreiging van die kewer inhou.
Braam du Preez, 'n bosboukon-sultant, het Maandag by navraag gesê die kewer is steeds 'n probleem in George. Hy is bewus van Engelse akkerbome wat vrek. Daar is bome in George wat besmet is met die kewer en hulle teel aan in sommige van die bome. Dit lyk of van die individuele bome wel weerstand bied.
In die wintermaande neem die kewer se sigbare aktiwiteit af, maar dit beteken nie die gevaar is verby nie. Hy het 'n beroep op inwoners gedoen om waaksaam te wees.
Corné Brink, kurator en bestuurder van die Tuinroete Botaniese Tuin, het gesê die kewer is steeds 'n probleem. Daar word by die instansie saam met die Universiteit van Stellenbosch gewerk wat van die bome monitor as deel van 'n studie.
Van die inheemse bome vrek nie, maar van die akkerbome wel. In die stadium hou die bestuur die situasie dop.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'