GEORGE NUUS - Die George July is om die draai en die organiseerders beloof 'n onvergeetlike dag met 'n unieke kombinasie van wyn-, jenewer- en bier-proeë, musiek en vermaak, asook die wonderlike geleentheid om die Seven Passes Initiative te ondersteun.
Hierdie jaarlikse geldinsamelingsprojek vind plaas op Saterdag 24 Junie by die Acropolis Venue net buite Blanco, en is 'n absolute moet-doen vir elkeen se dagboek.
Met 'n verskeidenheid top-wynplase, jenewerdistilleerderye en brouerye wat hul beste produkte gaan uitstal, kan gaste verseker wees van 'n heerlike sintuiglike ervaring. Wynplase sluit in Theuniskraal, De Krans, Jakkalsvlei, Le Seur, Good Stuff Company, Lynx Wines, DGB, Baleia Wines, Donegal Wines, Cornerstone Wine Emporium en Calitzdorp Wynkelder - 'n wyn vir elkeen se smaak en die geleentheid om 'n nuwe gunsteling uit ons eie omgewing te ontdek.
As jy 'n jenewer- of bierliefhebber is, sal die proeë deur Glenhoff, Darling en Grundheim se brouerye en distilleerderye jou verras met hul unieke geure en kwaliteit.
Die George July bied nie net 'n verskeidenheid drankies en versnaperinge nie, maar ook netwerkgeleenthede vir besighede, mode en vermaak.
Om 'n 'stokperd' in een van die wedrenne te borg, kos R1 500 en oop vir besighede sowel as individue. Die eienaar van 'n stokperd moet self 'n jokkie verskaf en hom/haar dan aantrek in 'n uniform - professioneel of prettig! Hierdie is 'n goeie geleentheid vir besighede en vriende om mekaar uit te daag.
Toegangsgeld beloop R350 per persoon vir vermaak van 13:00 tot 17:00. Die R350 per persoon sluit al die wyn-, jenewer- en bier-proegeleenthede in, asook die heerlike eetgoed wat deur die loop van die dag bedien gaan word.
Maak jou dus gereed vir 'n dag vol vermaak en spoggerige uitrustings by Die George July. Onthou om 'n rooi tapyt-uitrusting aan te trek, geïnspireer deur die tema, 'Óut of this World'.
Kaartjies is beskikbaar op Quicket en dit verkoop vinnig; spring dus as jy nog jou plek wil bespreek. Indien jy 'n perd wil borg of meer inligting verlang, stuur 'n e-pos na amy@aecevents.co.za.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’