GEORGE NUUS - As mens elke dag deur menslike ontlasting op jou voorstoep gegroet word, sal jy ook lus wees om van jou morele waardes te vergeet wanneer jy optree.
Dis die punt wat sake-eienaars in CJ Lagenhovenstraat bereik het oor haweloses wat op die stoepe slaap en dit as toilet gebruik.
Sake-eienaars naby Yorkstraat sê hulle is keelvol om soggens die vuil van hul voorstoepe af te spuit. Dis ook hier waar 'n man verlede jaar met 'n besemstok doodgeslaan is.
Een vrou sê sy is al tot in die volgende generasie gevloek omdat sy die haweloses aangepraat het. "Ons het voorheen 'n stalletjie gehad, maar ons raak ouer en kan nie elke dag in- en uitpak nie. Die winkel is ons brood op die tafel. En die mense het geen respek vir die lewe wat ons probeer maak nie."
Nog 'n eienaar sê hy het al hoeveel inbrake gehad en weet dit moet die haweloses wees wat snags daar slaap. "Hulle hou van die hoekies want dis lekker warm daar. Ek is al op van kla."
'n Hawelose man sê hulle slaap wel op die stoep, maar dis nie hulle wat snags so mors nie. "Ons kan nie mense aanpraat nie, dan maak ons moeilikheid vir onsself." Die man sê daar het onlangs nuwe mense bygekom, en dit is glo hulle wat so mors.
Die sake-eienaars sê hulle weet nie meer wat om te doen nie.
"Jy bel hoeveel keer en elke keer word jy belowe hulle kom nou. As hulle opdaag word die haweloses weggevat om môre maar weer daar te sit."
Die opsie van 'n nagskuiling is daar, maar baie gebruik dit nie. "Hulle kry genoeg geld om snags na 'n skuiling te gaan, maar wil nie daar wees nie."
Van bakboord na stuurboord
Kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sê sulke gevalle moet by die munisipaliteit se wetstoepassingbeamptes aangemeld word. "Ons sal hulle ondersteun in gevalle van uitsettings of waar haweloses gewelddadig raak of waar dit na misdaad lei."
George munisipale bestuurder, Trevor Botha, sê munisipale wetstoepassers pas net munisipale wette toe, nie kriminele wette nie. Botha sê die beamptes kan nie mense uitsit of wegvat van privaat eiendom soos winkelstoepe nie. "Dit is die verantwoordelikheid van die eienaars om hul eiendom veilig te maak, of dit deur veiligheidswagte is of veiligheidshekke."
Hy sê as mense bedreig voel, moet hulle die polisie kontak. Hy meen die klaers moet die polisie kontak, nie munisipale wetstoepassers nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'