Sy is nog steeds sy "Irish beauty met blou oë en auburn hare wat so lank was dat sy daarop gesit het".
"Hy't altyd gesê hy't my getrou vir my hare," lag sy verleë as hy so praat. Olly (kort vir Oliver) gaan haal 'n troufoto van 'n aantreklike paartjie om te wys wat hy bedoel.
Hy doen die meeste praatwerk met Ria wat hom tussendeur met guitige opmerkings terg. Die twee is op 10 November 1945 getroud. En vandag, 'n paar maande ná hul 66ste huweliksherdenking, is Ria 88.
"Ons is nou 'n tweeling," lag sy, want Olly is ook 88. Hulle vier vanjaar dus 'n besonderse mylpaal. Olly onthou die huwelikseremonie nog asof dit gister gebeur het. "Dit was meer soos 'n wydingsdiens. Dawid du Plessis, destyds internasionaal bekend as Mr Pentecost, het ons getrou. 'n Mens kon God se teenwoordigheid werklik voel," roep hy die oomblik in herinnering.
Maar vóór dit, toe hy Ria om haar hand vra, moes sy aan Olly verklaar of sy bereid was om enige plek saam met haar bruidegom "in te kruip", want hy wou sendingwerk in Afrika gaan doen. Hulle lewe saam as predikantspaar het egter 'n heeltemal ander verloop geneem. Drie weke ná hul troue is hulle in Kokstad ingeseën by die eerste van sewe gemeentes waar hulle in Suid-Afrika en die destydse Rhodesië bedien het.
Ná Olly se uittrede uit die formele bediening in 1985, het die egpaar vir 27 jaar lank 19 oorsese reise onderneem. Hulle was kruis en dwars deur Wes-Europa as wêreldevangeliste van die Elim Pentecostal Church van Brittanje.
Kinders
Die egpaar het vier kinders wat almal nou betrokke is by die verspreiding van die Evangelie. Hul een dogter, Evangeline is getroud met Petrus van der Bergh, president van Reinhard Bonnke se Christ for All Nations-bediening. Mary, hul ander dogter, is getroud met die bekende kunstenaar David Khoury en die twee is saam in 'n bediening in Bedford in die Oos-Kaap.
Oliver Junior is die hoof van die wêreldwye bediening Christian Vision, waarby sy vrou Bridgette ook betrokke is.
Hul ander seun Paul en sy vrou Jessica is by 'n vrywillige bediening in Port Elizabeth betrokke. Jessica was 'n Suid-Afrikaanse vyfkampkampioen en hul seun, Jon-Paul is tans die SA mansvyfkampkampioen. Daar is 11 kleinkinders.
En hoeveel agterkleinkinders? Dit is nie so maklik nie. "Ek weet nie," sê Olly, "ek tel nog." Ná 'n rukkie se tel - en oortel - werk Olly uit daar's 13.
Ria merk goedig op, "Hene, maar ek is met 'n ou man getroud," en Olly meen hy voel soos Vader Abraham. Hy en sy nageslag is inderdaad geseënd.
Olly preek steeds by Christelike gemeentes wat hom uitnooi sedert die egpaar se (finale) aftrede hier in George in 1997. Hy is ook besig om drie boeke te skryf.
Hulle aftreehuis is gedoop Bethel (Huis van God). Dit verklaar seker die vrede wat 'n mens tasbaar omvou as jy die tuinhekkie agter jou toemaak en al met die tuinpaadjie langs opstap na die stoep vir 'n kuiertjie.
.jpg)
Pastoor Olly Raper en sy vrou Ria vanoggend met haar 88ste verjaardag. Hulle dogter en skoonseun, Mary en David Khoury (links) en hul seun Paul (regs agter) was daar om die geleentheid saam met hulle te vier.
ARTIKEL EN FOTO: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD-JOERNALIS