Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Patrick Styles, 'n afgetrede mynwerker, het gistermiddag in George aangekom nadat hy die afgelope twee maande 2 000km van sy plaas in Koster met 'n groot houtkruis gestap het.
"Ek doen dit vir die Here," sê hy.
'n Goedgunstige Georgiet wat hom langs pad teëgekom het, het vir hom verblyf vir die nag aangebied. Môre, 3 Mei stap hy verder en beplan hy om in Knysna te oornag. Hy stap gemiddeld 40 tot 50km per dag en is nou halfpad terug huis toe nadat sy omswerwinge hom deur Kaapstad geneem het.
Sy roete terug huis toe gaan deur Port Elizabeth en dan Colesberg langs.
Styles sê hy het drie jaar gelede begin stap nadat hy afgetree het. Hy raak nie verveeld of ontmoedig nie. "Ek gesels met die Here en my gedagtes hou my besig."
Die kruis, waarvan die onderpunt op twee wiele gemonteer is, saam met sy bagasie weeg ongeveer 65kg en met opdraendes moet hy soms 'n ruskans vat. Die naam van Jesus is op die kruis gegraveer en 'n vlaggie wat bo sy bondel bagasie uit wapper, verkondig ook sy naam. Sy vorige kruis het hy self gemaak, maar hierdie kruis is spesiaal deur besigheidsmense van Welkom gemaak nadat hulle hom in Pater Noster gesien het.
Styles sê hy het nog nooit langs pad bedreig gevoel nie. "Ek het al in Alexandra verdwaal, maar 'n inwoner het my opgelaai en gehelp om my pad te vind."
Tussen sy staptogte rus hy sy bene en voete vir so drie maande tuis uit. Sy volgende een sal teen die Ooskus langs wees, deur Durban.
Styles se drie seuns is al getroud en uit die huis uit. Sy vrou wat die fort op hul plaas hou, is baie ondersteunend, sê hy.
Hy trek baie aandag. 'n Paar mense het toeter geblaas terwyl die George Herald langs pad met sy intog in George met hom gaan gesels het en mense is nuuskierig en nader hom om bietjie te gesels. Sommige bid vir hom.
Kyk 'n video hieronder.
Die vlaggie met Jesus se naam wapper agter bo-op sy bagasie.'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'