Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Wyle Japie Theron, erken deur die Khoisan as stamhoof Japie Theron Baartman, was 'n man met sterk waardes, geloof, denkwyses en siening van die Khoisan-kultuur en tradisies. Hy is Saterdag, na 'n stryd teen kanker, ter ruste gelê.
Stamhoof Theron se familie en vriende het hom afgesien op die tradisionele Khoisan-wyse, en dit was ook sy wense om so graf toe te gaan. Hy was stamhoof van die Korana-huis en volgens die familie was hy familie van Saartjie Baartman.
Die hoofvrou van die Korana-huis, Trudie Jansen, wat vir jare sy persoonlike assistent was en onder hom in die stamhuis gedien het, sê hy was soos 'n pa vir haar en 'n goeie leier.
Sy vertel Saterdag met 'n effense hees stem hoe hulle in die vryheidstryd vir die Khoisan betrokke geraak het. "Hulle het 'n paar jaar gelede verby my huis gestap en ek het hulle nader geroep omdat ek nie die bandjie om die kop verstaan het nie. Hulle het vertel dat hulle Khoisan-leiers is."
Volgens Jansen was Theron eens op 'n tyd 'n bewaarder, 'n makelaar asook 'n apostel in die kerk en het gegaan waar ander nie durf nie.
Kyk 'n video hieronder.
Die perdekar het voor die stoet gery met Khoisan-leiers in prosessie.
Jansen, stamhoof Theron se seun Francois, stamhoof Jonathan Damons, oudste Martin Kol en ander het onder Theron gedien. Sy sê saam met stamhoof Theron het hulle gewerk vir die bewusmaking van kultuur, inheemse wette en regte. "Ons het baie keer kwaad geword as mense na hulself verwys het as kleurling. Dan het stamhoof Theron gesê ons moenie kwaad raak nie, omdat die mense nie van beter weet nie. Hy het gesê bruin mense is afstammelinge van die Khoi, Hottentot en Boesman wat die eerste stamme in Suid-Afrika was en is."
Jansen sê met elke lewe wat Theron aangeraak het, het hy vir hulle iets nagelaat. So ook vir sy seun Francois, wat nou sy pa se skoene moet volstaan, onder leiding van die waarnemende stamhoof Jonathan Damons.
Hy is Saterdag ter ruste gelê.
Onder die bekwame leierskap van stamhoofde soos Damons, word Francois die pad vorentoe wysgemaak. "Ek weet niks van die dinge nie, maar ek sien uit daarna. My pa se dood het veroorsaak dat ek nou genoodsaak is om te leer. Ek sal alles in my vermoë doen om te voldoen aan sy wense."
Stamhoof Damons sê hulle sal voortgaan met dit wat Theron begin het. "Dit baat nie ons gaan nou laat slaplê nie. Ons het werk wat voorlê." Stamhoof Brendan Adams sê die Korana-stam val onder koning Michael Links van die Links Royol House, wat hom en Theron aangestel het as opperhoofde. "Dit is vir die hele George, nie net Pacaltsdorp nie. Ons was die enigste manne met die bewyse van die bloedlyn wat aangestel was." Adams het ook vir Francois namens Theron in die stamhuis verwelkom. Hy sê waar Theron begrawe is sal voortaan as die heuwel van die stamhoofde bekendstaan, en dis 'n eer wat Theron toekom.
Die Theron-familie kom aan kom die Kaptein Dikkop-amfiteater waar die roudiens gehou is.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'