GEORGE NUUS - Suster Maureen Barnard van die Diabetes Centre of Excellence tree die einde van Oktober af en ná 30 jaar in George keer sy en haar wederhelf, Johan, terug na Nelspruit.
"Toe ons in 1990 van Nelspruit na George verhuis het, het ek halfpad hierheen gehuil. Nou gaan ek weer halfpad terug na Nelspruit huil. Ek neem 'n sak vol herinneringe saam van ervarings wat ek deurleef en beleef het saam met my pasiënte in George," sê Barnard.
Hoewel hulle hartseer is om George te verlaat, sien die egpaar baie daarna uit om naby hulle dogter en skoonseun in 'n aftreeoord te kan aftree.
Barnard gaan nie stilsit nie, maar hoop om steeds besig te bly met vryskutwerk vir farmaseutiese maatskappye. Sy gaan voort om diens te lewer aan diabeteslyers deur middel van 'n program wat onder meer telefoniese konsultasies behels.
Haar belangstelling in diabetes het daartoe gelei dat sy op 'n vrywillige basis by die George-hospitaal se pediatriese diabeteskliniek betrokke geraak het waar sy van 2006 tot 2016 aktief was. "Diabetes was sedert 1996 my intense belangstelling en ek het talle kursusse daarin gedoen," vertel sy.
Sy was reeds vanaf 2000 betrokke as diabetesopvoeder vir die CDE (Centre for Diabetes and Endocrinology) wat later deur dr. Jacques van Staden oorgeneem en herdoop is na die Diabetes Centre of Excellence.
"Daar is heeltyd dinamika in die verbetering van behandeling rakende medikasie en ook tegnologie soos insulienpompe en aanhoudende bloedglukose-monitering vir pasiënte met diabetes. Dit was 'n ongelooflike voorreg vir my om hierdie dinamika te kon beleef. Ten spyte van alles is die pasiënt met diabetes die kaptein van sy lewe en die meester van sy lot.
"90 % is selfsorg en dit is ons grootste uitdaging as diabetes-span om 'n pasiënt as sulks te ondersteun."
Barnard het in die vroeë jare na hul aankoms in George ook 'n babakliniek begin waar sy 'n pad gestap het met ma's en hul babas, veral as borsvoedingkonsultant. Dit is later deur sr. Janine Johnson oorgeneem wat intussen ook afgetree het.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'