GEORGE NUUS - ‘n Roudiens vir André Stander (61), die bekende sportskrywer wat Vrydagaand by ‘n skoolreünie gesterf het, word môre Woensdag 10 Oktober om 15:00, in die NG Kerk Denneoord gehou.
Na afloop van die roudiens sal daar ‘n samekoms in die kerksaal wees.
Hy het tydens sy skoolreünie aan natuurlike oorsake gesterf.
Volgens sy vrou, Magda, het André daarna uitgesien om die reünie by PW Botha Kollege by te woon. “Hy het vroeër die dag in die berg gaan stap en was baie trots op sy gesondheid. Hy wou graag later die aand na die reünie gaan,” het Magda gesê.
Sy het egter ‘n oproep omstreeks 21:00 Vrydagaand van gaste by die reünie ontvang om haar mee te deel dat haar man inmekaargesak het.
“Ek was by die huis en hulle het gesê ek moet dadelik kom, dit lyk nie goed nie. Toe ek en my seun, Francois daar aankom was hy reeds dood.”
Stander word oorleef deur sy vrou, Magda, seun Francois, dogter Annalien Coetzer en ses kleinkinders.
Lees 'n vorige artikel hier: Bekende sportskrywer sterf by reünie
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'