GEORGE NUUS - 'n Beplande ontwikkeling vir privaat eiendomme in Le Vallia het sommige inwoners bekommerd oor toekomstige waardasie van hul eiendomme.
Ander reken weer die grond behoort eerder vir 'n kliniek of skool gebruik te word. Daar is ook diegene wat vra hoekom dit nie eerder vir gesubsidieerde behuising gebruik kan word nie.
Le Vallia se Sweetpea-behuisingsontwikkelingsvoorstel is kortliks met inwoners van die buurt tydens 'n vergadering verlede Woensdag, 16 Oktober, bespreek. Inwoners het van die geleentheid gebruik gemaak om hul opinies te lig. Die grond ter sprake is op die hoek van Sweetpeastraat en Courtenaystraat.
Privaat eiendom
Senior ruimtelike beplanner Lynette Groenewald het inwoners gerusgestel dat die beoogde ontwikkeling nie mik na gesubsidieerde huise nie, maar privaat eiendom. Dit volg na klagtes van inwoners wat bekommerd is dat hul eie eiendom se markwaarde sal verlaag.
Delia Power, waarnemende direkteur: menslike nedersettings, beplanning en ontwikkeling het by navraag meer inligting rondom die projek verskaf.
"Die bedoeling is om die enkelresidensiële eiendomme as gedienste persele te lewer, waarop die koper hul eie eenheid kan bou," het sy gesê.
"Indien die koper vir subsidie kwalifiseer, kan hulle aansoek doen vir individuele subsidie.
"Die algemene residensiële persele sal aan 'n ontwikkelaar beskikbaargestel word om bekostigbare verblyf vir die verkoop- of huurmark te ontwikkel.
"Aansoekers wat vir subsidies kwalifiseer, kan op individuele basis by die provinsiale owerhede aansoek doen. Let daarop dat die raad nog moet besluit oor die besonderhede rakende die finansiering van die projek en die terreine."
George-raadslid Jean Saffers probeer gemoedere kalmeer.
Die projek word verdeel as volg: 43 erwe gesoneer enkel residensieel I, om enkel- of semi-losstaande huise te akkommodeer. Erfgroottes wissel tussen 250 en 530m².
Benewens hierdie erwe word twee erwe gesoneer as algemeen residensieel sone II, om voorsiening te maak vir hoër digtheid behuisingseenhede. Daar word verwag dat 'n maksimum van 63 eenhede op hierdie terreine geakkommodeer kan word. Huurgebruik of deeltiteleienaarskap is moontlik op hierdie erwe.
Publieke deelname
Enige kommentaar, vertoë of besware ten opsigte van die hersonering en onderverdeling van die terrein kan ingedien word by Winsley Meyer wmeyer@george.gov.za of Lynette Groenewald lgroenewald@george.gov.za en gekopieer word na post@george.gov. za. Kommentaar moet die munisipaliteit op 11 November, voor die einde van die dag bereik.
Marilyn Waters (links) is lus vir 'n petisie. By haar is Maggy Williams en Gloria Muller (regs).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’