GEORGE NUUS - Die George-munisipaliteit ondersoek die moontlikheid om hidro-elektrisiteit op te wek as deel van planne om in die stad se kragbehoeftes te voorsien.
Die moontlikheid is onlangs deur Leon van Wyk, George se burgemeester, tydens 'n vergadering van die George-sakekamer genoem. Van Wyk het dit Dinsdag 3 Mei aan George Herald bevestig.
Hy het benadruk dat verskeie moontlikhede ondersoek word. Die munisipaliteit het R250 miljoen opsygesit vir die volgende drie jaar vir hernubare energie.
Die munisipaliteit beoog onder meer om sonkragaanlegte te vestig wat voorsiening maak vir 10 megawatt. Dit sal na verwagting tussen R180 en R200 miljoen kos.
Dit sal in verskillende fases geskied en die plan is om aanvanklik panele te vestig wat voorsiening maak vir een megawatt. Daarvoor sal dit nie nodig wees om 'n omgewingsimpakstudie te doen nie.
As alles volgens plan verloop, kan dit reeds in Augustus 2023 in bedryf wees. Intussen sal omgewingsimpakstudies gedoen word om dit uit te brei tot 10 megawatt.
In die stadium word na verskillende opsies gekyk en moontlike terreine vir vestiging is nog nie gefinaliseer nie.
Bo en behalwe dit word ook beplan om sonkragpanele te vestig by die munisipale waterweke en rioolaanleg. Dit sal voorsiening maak vir 2,7 megawatt.
Van Wyk het gesê die munisipaliteit is ook besig om met die privaat sektor te praat oor moontlike betrokkenheid by kragopwekking. Daarby is ingesluit die moontlikheid om hidro-elektrisiteit op te wek.
As dit sou plaasvind is die plan om water van die ou George-dam in die Outeniqua-berge te laat afloop na die Tuinroetedam.
So sal elektrisiteit opgewek word in piektye. Die water sal dan later in die nag teruggepomp word na die ou George-dam waar die proses weer die volgende dag herhaal kan word.
In die stadium is dit nog in 'n onder-soekfase. "Ons sal die publiek op hoogte hou met die vordering van die proses." Volgens Van Wyk is die munisipaliteit se teiken dat George in ten minste 20 tot 30% van sy eie elektrisiteitsbehoeftes sal voorsien. Dit kan binne drie tot vyf jaar gebeur. Dit doelwit is dat George nie geraak sal word wanneer fase 2-beurtkrag ingestel word nie.
Die munisipaliteit kyk ook op die oomblik om die elektrisiteitstariefstelsel te verander.
Hy het gesê op die oomblik hef Eskom sy tariewe wat gegrond is op die hoogste verbruik in die jaar, daarom hoop hulle om die piekkoste wat George aan Eskom betaal af te bring. Die verbruiker sal daarby baat deur moontlik klein verstellings aan tye van eie verbruik aan te bring.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'