GEORGE NUUS - 'n Huiseienaar van Andersonville wat onwillig was om 'n gedeelte van sy huis af te breek wat op sy bure se erf gestaan het, moes toekyk hoedat 'n kontrakteur wat deur die balju opdrag gegee is, dit vir hom doen.
Dit volg ná vergeefse pogings deur sy bure, David en Nathleen Pieterse, om met die eienaar, Selvin Meyer, te onderhandel om 'n onderlinge skikking te bereik. Hulle kon as gevolg van die oorskryding nie 'n behoorlike grensmuur bou nie, want die twee huise het op een hoek feitlik aan mekaar geraak. Meyer se huis het 600 cm x 6,1 m oor die grenslyn gestrek.
Die Pieterses het hul erf in 2014 op tender by die George-munisipaliteit gekoop. Toe hulle hul huis se fondasie in Maart 2016 begin uitlê, het hulle besef die bure se huis staan gedeeltelik op hulle erf. Amptenare van die munisipaliteit se boubeheerafdeling het hul klagte afgemaak as iets waaraan die owerheid niks kon doen nie en hulle aangesê om die probleem self deur middel van regstappe op te los.
Dit was eers in 2017, nadat mev. Pieterse haar tot die George Herald gewend en die koerant by die munisipaliteit begin navraag doen het, dat die saak ondersoek en 'n regsproses teen Meyer begin is. Hy het egter kennisgewings van die munisipaliteit om te sloop geïgnoreer.
Op 20 Junie vanjaar het Pieterse weer by die koerant gekla dat niks gebeur nie. Ná nog 'n navraag van die George Herald by die munisipaliteit, het die owerheid bevestig dat 'n lasbrief vir die sloping uitgereik is. Dit het op 28 Junie begin.
Volgens Pieterse het hulle tot onlangs nog probeer om 'n ander uitweg deur middel van 'n skikking met Meyer te bewerkstellig, maar al hul pogings is - soos oor die afgelope twee jaar - geïgnoreer. "Ons wou dit nie so hê nie, maar hulle het ons nie 'n ander keuse gegee nie. Die munisipaliteit het gesê die bure weier om af te breek. Ons is werklik verlig dit is nou verby en dat ons kan voortgaan met die muur, en ons lewens," het sy gesê.
Meyer het nie gereageer op boodskappe wat vir hom gelaat is nie.
Die Pieterses het nou plek om hul grensmuur te bou. 'n Muur van hul huis kan links gesien word. Regs is 'n gedeelte van die huis wat oorskry het. Foto verskaf
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'