GEORGE NUUS - Die skopgrawe van Kirsten & Tulleken Vervoer (KTV) het aanvanklik agter geloop in die eindstryd van die Love 4 Vintage Kommaweer Stoffeerders se Lenteliga vir besigheidspanne, maar gaandeweg hul pad na oorwinning oopgegrawe teen die lang messe van The Butcher Boys.
KTV, wat van meet af aan voorgeloop het in die reeks by die Outeniqua-rolbalklub, het 'n welverdiende oorwinning behaal en die kampioenskap met vier ligapunte voor die span in die tweede plek, Kruger Internasionaal, beklink.
Niemand was meer verbaas as Kruger Internasionaal se spanlede self met hul uitstekende vertoning in hul eerste rolbalreeks nie.
Die span het aanvanklik gesukkel om vroeg in die reeks op dreef te kom, maar al beter gevaar en het teen die einde selfs die titel in die oog gehad. Nou is hulle vol inspirasie vir die Somerliga wat middel Oktober afskop.
The Butcher Boys het as gevolg van hul nederlaag in die eindstryd tot die vierde plek teruggesak.
Die Skubbe, een van die twee spanne van Bruwer Reynolds Prokureurs wat aan die liga deelgeneem het, het ook uitstekend gevaar en die derde plek ingeneem.
Die reeks is deur almal wat betrokke was as 'n reusesukses beskryf en die hoofborge het ingewillig om ook die komende Somerliga te borg.
Kirsten & Tulleken Vervoer se spanlede is verheug nadat hulle die Lenteliga met 'n reuse-eindpoging gewen het. Greg Young, president van die Outeniqua-rolbalklub staan hier regs by die kampioene tydens die prysuitdeling. Die spanlede is van links: Hein Koen, Hannes Muller, Brian Koen en Leon Langeveld. Foto's: Jannie Meyer
Elke spanlid het na afloop van die rolbal 'n heerlike biefstukete ontvang. Michael Lindt, Wim Erasmus en Herman Grobbelaar het die aand met hul sang en musiek op 'n hoogtepunt afgesluit.
Die president van die Outeniqua-rolbalklub, Greg Young, het alle betrokkenes by die sosiale rolbal bedank vir hul bydraes om elke reeks 'n sukses te maak.
Hy het ook die borge uitgesonder vir hul bydrae wat die rolbalreeks vir veral besigheidspanne moontlik gemaak het.
Kruger Internasionaal se span was in ekstase oor hul tweede plek met hul eerste probeerslag in 'n rolbalreeks. Van links isTabu Bester, Pieterjan Heymann, Jacques Lehnberg en Hellix Heymann.
Uitslae
1 Kirsten & Tulleken Vervoer 56; 2 Kruger Internasionaal 52; 3 Skubbe 59; 4 Butcher Boys 58; 5 The Privates 56; 6 Supporters 55; 7 Ricoh 54; 8 Emtec 54; 9 Bowling Stones 51; 10 Aces High 49; 11 Split Happens 49; 12 Kommaweer Stoffeerders 48; 13 Rawson Rollers 48; 14 Butz & Gutz 48; 15 Mend a Bath 47; 16 Bruwer Reynolds Prokureurs 47; 17 Die Ryp Piesangs 47; 18 Werkloos 46; 19 4 Musketeers 43; 20 Just Property 42; 21 Conti Granite 41; 22 Angels 38; 23 Mix n Match 37; 24 Conti Kitchens 36; 25 Matoppa Plumbers 35; 26 The Besociables 32.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'