GEORGE NUUS - Die Suid-Afrikaanse Vereniging van Mond- en Voetskilders gaan die eerste keer in 24 jaar weer 'n formele uitstalling hou. Dit vind op 5 en 6 November by Carpe Diem skool plaas en 26 kunstenaars vanoor die land is daarby betrokke.
Altesaam 25 van die kunstenaars skilder met hul mond en een met sy voet. Besoektye is van 09:00 tot 16:00 en toegang is gratis.
Patrick Botto van die organisasie het gesê agt van die kunstenaars sal self die geleentheid bywoon en skilder. Toegang is gratis en Vrydagaand, 4 November, is daar 'n gala-geleentheid waarvoor mense kaartjies kan koop. Dit kos R200 per persoon.
Die laaste keer wat so 'n geleentheid gehou is was in 1998 en dis destyds by die Wilderness Hotel gehou. Hy het gesê die doel van die geleentheid is om die kunswerke van die kunstenaars aan die publiek bekend te stel. Tydens die geleentheid sal die publiek van die kunstenaars self kan ontmoet.
Die geld wat met die gala-aand ingesamel word sal tot voordeel van die kunstenaars ingesamel word. Die organisasie help ook studente. Die enigste voorwaarde is dat iemand nie sy haar/hande moet kan gebruik om te kan skilder.
Botto se pad
Botto kom self 'n lang pad. Hy kom oorspronklik van Grabouw. Later het hy in Pretoria as 'n vingerafdrukdeskundige by die polisie gaan werk. Op 12 November 1993 het sy lewe vir altyd verander.
Hy en sy kollegas het van 'n jaareindfunksie teruggekeer en was in 'n motorongeluk betrokke. Een persoon het in die ongeluk gesterf en Botto het sy nek gebreek. Die ongeluk was 'n groot skok en dit was 'n moeilike tyd. Hy moes elke dag met die nuwe realiteite saamleef.
Sowat vier jaar na die ongeluk, het 'n vrou hom genader en wou weet of hy nie belangstel om by dié organisasie betrokke te raak nie. Dit het hom vier maande geneem om sy eerste skildery van twee rose te voltooi.
Botto het gesê dit neem 'n tydjie om die wyse van skilder baas te raak. Hy skilder graag oor die karoo en windpompe. Gewoonlik neem dit hom sowat drie weke om 'n A3-skildery te voltooi. Baie hang van die detail af.
Hy geniet die skilder. Hy is dankbaar want dit bied 'n geleentheid om iets te doen. Dit het ook 'n brood en botter voordeel vir hom.
Mense wat meer inligting wil bekom kan Botto bel 083 258 2497.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'