GEORGE NUUS - Die George Sport Skietklub (GSSC) se skietbaan is tans gesluit vir veiligheidsopgraderings.
Volgens die bestuur van die klub is dit sodat die baan vir South African Defense Pistol Association (Sadpa) en International Defense Pistol Association (IDPA)-kompetisies gebruik kan word. Die George Herald het ook vertroulik verneem dat kinders van die omgewing onlangs onwettig toegang tot die skietbaan verkry en daar gespeel het en dat dit een van die redes is waarom opgraderings gedoen word.
Daar was vrese dat een van die kinders beseer kan word en daarom het die bestuur besluit om vroegtydig op te tree om 'n ongeluk te verhoed. "Ons vra vir geduld tydens hierdie proses en vra om verskoning vir enige ongerief in hierdie verband," het Anton Meyer van GSSC aan die George Herald gesê.
"Ons spog vir 33 jaar, sedert die bestaan van die baan, met 'n 100% veiligheidsrekord en absoluut geen voorvalle van ongelukke nie. Dit wys dat ons lede die reëls en regulasies respekteer, veiligheid in ag neem en dat die bestuur se werk doelgerig uitgevoer word."
Die klub bestaan tans uit 263 betaalde lede en volgens Meyer raak die sport al meer gewild.
Alhoewel daar uitsonderings is, is lidmaatskap aan 'n skietbaan ook 'n vereiste om 'n nuwe vuurwapenlisensie te kry of 'n bestaande een te hernu. "Ek vra ons lede om asseblief hierdie pad saam met ons te stap sodat ons nog vir jare lank ons sport, wat so na aan al ons harte lê, veilig kan geniet," het Meyer bygevoeg.
* The George Sport Shooting Club (GSSC) shooting range is currently closed for security upgrades.
ARTICLE: KRISTY KOLBERG, GEORGE HERALD JOURNALIST
'We bring you the latest George, Garden Route news'