GEORGE NUUS - Vir 'n tweeling van Pacaltsdorp, Deauwin en Beauwin Rens, tans onderskeidelik tweede en derde in die Wes-Kaap in hulle ouderdomsgroep, is skaak soos die lug wat hulle inasem.
Hulle is net sewe jaar oud, maar troef reeds hulle pa, Bradwin, 'n skaakinstrukteur, op die skaakbord.
Toe hulle net twee jaar oud was en nog in doeke, het hulle reeds hulle eerste skuiwe gemaak. Die seuns se aandag sou vir ure op die skaakbord vasgenael wees terwyl pa en ma, Sharlene, speel.
"Ek het vir die eerste keer besef hoe goed hulle ons dophou toe ek die skaakbord eenke'er netjies uitgepak in hulle kamer aantref. Die twee het vanself begin speel, en daarna was daar geen keer nie.
"Hulle het my ook begin uitdaag en in plaas van voor die TV sit of buite speel, was hulle agter die skaakbord."
Van ouderdom vyf af het dit begin om 'n taai kompetisie te wees tussen Bradwin en die tweeling. Deesdae gebeur dit dat hulle hom sommer binne twee minute in skaakmat sit. "Hulle dink hulle eie strategieë uit en probeer dit dan op my uit," lag Bradwin.
Die skaakbord gaan oral saam, of die gesin nou na die speelpark of met vakansie gaan, of vriende en familie besoek. Omdat albei ekstroverte en baie sosiaal is, speel hulle teen almal wat gewillig is.
Hulle sal altyd smeek om net nog een potjie voor slapenstyd te speel, en is al uitgevang dat hulle skelmpies die bord weer uitgehaal het nadat pa en ma gaan inkruip het, salig onder die indruk dat die kinders slaap.
Sharlene sê die tweeling trek die skaakbord vroeg soggens nader en maak skuiwe sommer so tussen die aantrek deur; dan speel hulle verder terwyl hulle ontbyt eet en in die kar op pad skool toe.
"'Wanneer hulle tuiskom, is dit gewoonlik eerste skaakbord toe."
'n Skaakbord trek hulle soos 'n magneet. Beauwin (links) en Deauwin speel op enige plek. Hulle is genooi na 'n nasionale juniorkompetisie, maar sal moet uitsit as hulle nie 'n borgskap kry nie.
Die Rense het 'n jaar gelede van die Kaap af George toe getrek sodat hulle Beauwin en Deauwin nie in 'n stadskool hoef te sit nie.
Die twee se eerste skooljaar by Laerskool Denneoord was baie vrugbaar. Sharlene en Bradwin het hulleself beskikbaar gestel as skaakinstrukteurs by die skool en met die seuns wat 'n voorbeeld gestel het met hulle ywer vir skaak, het die sport in een jaar geweldig by die skool gegroei.
"Dit het 'n positiewe uitwerking, want van die ouers het al vir ons gesê dat hul kinders sommer beter fokus in hul skoolwerk," sê Bradwin.
Die boeties het in een jaar hulle George-, Eden- en Wes-Kaapse kleure vir skaak ontvang en het deurgedring na die Mzansi Interprovinsiale Jeugskaaktoernooi in Desember.
Merietesertifikate van die skool en medaljes is besig om die een muur in die sitkamer te vul. Beauwin het onder meer 'n sertifikaat ontvang vir uitstaande junior skaakspeler van die jaar en Deauwin vir junior skaakspeler van die jaar asook vir junior sportseun van die jaar.
Beauwin speel ook hokkie, en omdat die twee boeties so verknog is aan mekaar, het Deauwin besluit hy val volgende jaar ook in op die hokkieveld.
Bradwin sê hy het self in skaak uitgeblink en daar het groot geleenthede oor sy pad gekom, maar hy kon dit nie bekostig om daaraan deel te neem nie.
Hy wil graag dat sy twee uitblinkerseuns volgende jaar aan die Suid-Afrikaanse Junior Geslote Skaakkampioenskappe (SAJCCC) deelneem, waarheen hulle uitgenooi is, maar dit sal slegs moontlik wees met 'n borgskap.
Die gesin doen 'n beroep op enige moontlike borge om hulle te kontak by 067 925 2833.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’