HAARLEM EN UNIONDALE - ’n Saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer word deur die speurders in Uniondale ondersoek. Dit volg nadat ‘n 12-jarige seun na bewering op byekaste in Haarlem gegooi is.
Lorenzio Robertson (12) het blykbaar Dinsdagmiddag 17 Desember saam met ander kinders in die omgewing van Markstraat gespeel.
“Daar is byebokse agter ‘n huis in Markstraat, en Lorenzio wou blykbaar die een se deksel gaan terugsit,” het sy ma, Rozaan Robertson, gesê.
“Toe tel een van die ouer seuns hom op – die kind is 18 of 19 – en gooi hom twee keer op die bokse. Die bye het begin woelig raak, want hulle word nou gehinder. Hy is sat gesteek.
"Lorenzio het geklop by die huis maar niemand wou oopmaak nie, hulle het staan en lag. Hy het toe gaan hulp soek by sy ouma.”
Volgens Rozaan is haar seun daardie dag gehospitaliseer, en het hy baie pyn en swelling verduur – veral in sy gesig en voete. “Die swelling het nou begin sak, maar hy is deur baie,” het sy gesê. “Sy gesig en voete is lelik gesteek. Hy het Dinsdagaand in die Uniondale-hospitaal geslaap. Dit pyn en jeuk nog steeds.”
‘n Wykskomiteelid van Haarlem en niggie van die slagoffer se ma, Kelly-Ann Robertson, het gesê boeliegedrag onder die jeug moet meer aandag kry.
“Kinders word misbruik en geboelie. Ons kinders moet weet dit is nie reg nie, en dat jy nie so hanteer moet word nie, al is jy arm. Ons kinders ly onder swak gedrag van ander.”
Polisiewoordvoerder sers. Chris Spies het by navraag gesê die saak word tans ondersoek. “Die verdagte moet nog in hegtenis geneem word,” het hy gesê.
“Sy gesig en voete is lelik gesteek. Hy het Dinsdagaand in die Uniondale-hospitaal geslaap. Dit pyn en jeuk nog steeds.” - Rozaan Robertson
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’