POLITIEK - Die politieke landskap in George het 'n interessante nuwe wending geneem met ses raadslede wat hul onderskeie partye verlaat het om hulle by die Patriotic Alliance (PA) te skaar.
Die grootste verlies is waarskynlik vir die PBI, wat drie van sy raadslede - Druzelda Koeries, Jacobus Gertse en Darryl Coeries - aan die PA afgestaan het.
Die ANC verloor twee raadslede, Faith Mdaka en Zukile Gom, terwyl die DA se jare lange PR-raadslid Braam America ook na die PA skuif.
Koeries, wat sedert Junie 'n PBI-raadslid was en bekend is vir haar uitgesproke Facebook-blad, Uncut with Lady Dru, sê haar besluit is gegrond op haar geloof in die PA se visie.
"Ek is terug PA toe vir die rede hoekom ek dit in die eerste plek gejoin het. Ek glo aan hulle visie en missie en dat hulle die beste keuse is vir ons mense," sê sy. Sy voeg by dat sy haar "gewig wil ingooi by 'n party wat daadwerklik werk vir ons mense".
Mdaka en Gom, wat albei die ANC in die George-raad verteenwoordig het, is tans tjoepstil oor hul besluit om na die PA oor te skuif. Beide kies om nie kommentaar te lewer nie.
Mdaka is 'n voormalige sweep van die opposisie en jare lange ANC-raadslid, en Gom was 'n ANC-wyksraadslid vir wyk 10.
Wag vir dit!
ANC-veteraan Faith Mdaka (links) en Zukile Gom, ANC-wyksraadslid van wyk 10 is beide nou deel van die PA-span.
America, wat jare lank as DA-PR-raadslid gedien het en 'n bekende gesig in Pacaltsdorp is, sê sy besluit om die DA te verlaat het gekom nadat hy nie vir die komende verkiesing as kandidaat gekies is nie.
"Die DA het my nie goed genoeg gevind om die party in die eerskomende verkiesing te verteenwoordig nie," sê America. Volgens hom glo baie inwoners steeds in hom en voel hy hy het "nog soveel te gee vir die gemeenskap".
Gayton McKenzie, president van die Patriotic Alliance (PA), verwelkom voormalige DA-raadslid Braam America.
Gertse beskryf sy skuif van die PBI na die PA as 'n strategiese politieke besluit en sê dit gaan nie oor finansiële gewin nie.
Jacobus Gertse, voormalige PBI-raadslid.
"Daar is nog te veel mense daarbuite wie se stem nie gehoor word nie," sê hy, en voeg by dat hy glo die PA kan 'n verskil maak en tot groter eenheid in die land bydra.
Coeries sê sy besluit was maklik omdat hy glo in "dienslewering, gelykheid en verandering". Hy beklemtoon: "Ek het nie gekom vir 'n stoel nie. Ek het gekom om te dien."
Darryl Coeries, voormalige PBI-raadslid. Hy deel 'n hartlike oomblik met Lenie Hendricks.
Die PA se burgemeesterskandidaat, Derick Petersen, het by navraag gesê die party verwelkom hulle almal met ope arms. "Julle gaan nog skrik, daar gaan nog baie kom," het hy gesê. "Die gety het na die PA toe gedraai."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’