GEORGE NUUS - Hierdie week vier Sentiara sy eerste bestaansjaar. 'n Mylpaal wat op Woensdag 8 April bereik is en met trots en opregte dankbaarheid deur Salomé Bruyns en haar klein, toegewyde span dierehelde gevier word.
Vir Bruyns was die afgelope jaar alles behalwe maklik. "Dit was 'n jaar van bou, leer, deurdruk en aanhou glo, selfs wanneer die pad onseker gelyk het. Maar die fondasie is nou gelê en van hier af kan Sentiara nét groei," sê sy.
Sentiara is 'n gemeenskapsgedrewe dierewelsynsorganisasie wat hom toespits op diere in nood. Onder leiding van Bruyns, wat vir menigte jare by die plaaslike DBV gewerk het, werk die organisasie met beperkte hulpbronne, maar 'n passie om 'n verskil in diere se lewens te maak.
"Wat nederig begin het met garage sales elke Saterdag en kosverkope op Vrydae, het binne vier maande ontwikkel in die opening van ons eie liefdadigheidswinkel in Doneraile Square.
"Elke skenking en elke persoon wat hul hand uitsteek, maak 'n groot verskil. Dít is hoekom ons ná 'n jaar steeds staan en elke dag in staat is om diere te help," vertel Bruyns.
Hierdie jaar het Sentiara verskeie uitreike gedoen en honderde diere gehelp. Soveel dat dit moeilik is om elkeen op rekord te hou.
Hulle het skole en crèches besoek om bewusmaking oor diereversorging te skep, iets wat vir hulle baie na aan die hart lê.
Van die reddings sluit mishandelde skilpaaie en talle honde in, met Charlie, 'n erg verwaarloosde Amerikaanse veghond (pit bull) wat tans by Project Blessing in Mosselbaai herstel.
Alhoewel aannemings nie hul hoofdoel is nie, het hulle reeds 49 diere in liefdevolle huise geplaas.
Met die hulp van die Steri Squad is talle diere ook gesteriliseer, terwyl baie gesinne ondersteun is met kos vir hul troeteldiere.
Sentiara spreek hul dank uit aan PDSA, Project Blessing en almal wat bygedra het, insluitend skenkings wat hul werk moontlik maak. Die behoefte bly egter groot, met daaglikse oproepe om hulp.
Hul missie bly eenvoudig om 'n verskil te maak, een dier op 'n slag, en dié is net die begin!
Charlie is een van Bruyns se grootste suksesstories.
’n Klein katjie wat deur Sentiara gered is.‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’