GEORGE NUUS – Sentiara se Thrifts for Tails-liefdadigheidswinkel het na ’n nuwe, groter en meer sigbare perseel by die Multisentrum in Meadestraat geskuif.
Dié winkel, wat nou by 104 Meadestraat geleë is, is meer as net ’n plek om tweedehandse winskopies te vind. Die inkomste uit verkope help om fondse in te samel vir Sentiara se werk ten bate van diere en gemeenskappe.
Sentiara is in 2024 deur Salomé Bruyns gestig met ’n fokus op dierewelsyn, opvoeding, gemeenskapsuitreikwerk en verantwoordelike troeteldiereienaarskap.
Die organisasie bied onder meer hulp aan diere in nood, mediese ondersteuning en sterilisasie-inisiatiewe.
Van klein begin tot groter winkel
Sentiara Thrifts for Tails het aanvanklik vanuit ’n kleiner ruimte bedryf, maar het met die ondersteuning van die gemeenskap geleidelik uitgebrei.
Die nuwe perseel bied nou meer ruimte om voorraad uit te stal en ’n groter aantal mense te bereik.
Besoekers kan onder meer deur ’n verskeidenheid klere, skoene, huisware, dekor, linne, beddegoed en ander tweedehandse items snuffel.
Soos met enige liefdadigheidswinkel, weet jy nooit presies wat jy gaan kry nie, maar elke aankope dra by tot ’n goeie doel.
“Ons winkel is ons lewensaar,” sê Bruyns.
Die gemeenskap maak die verskil
Sentiara is afhanklik van die ondersteuning van die publiek en moedig mense aan om items wat hulle nie meer gebruik nie, maar wat steeds bruikbaar is, te skenk.
’n Ou kombers kan ’n dier warm hou, terwyl ongebruikte huisware of klere verkoop kan word om fondse vir ’n dier se mediese behandeling te help genereer.
Die doel is om ’n eenvoudige kringloop te skep: skenk, koop, hergebruik en help.
Volgens Bruyns strek Sentiara se werk verder as net dierewelsyn. Die organisasie is ook betrokke by gemeenskapsuitreikwerk en opvoeding, met die uitgangspunt dat verantwoordelike dierewelsyn by mense en hul versorging van diere begin.
Die publiek is welkom om die winkel te besoek, tweedehandse winskopies te soek of items te skenk. Skenkings kan ook gereël word by 076 202 0043.
Elke aankoop en skenking help Sentiara om sy werk vir diere en gemeenskappe voort te sit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’