GEORGE NUUS - 'n Trofee by die onlangse Suid-Afrikaan-se Nasionale Filateliese Uitstalling, Vrijstaat 2021, in Bloemfontein, het gelei tot 'n verrassingsontmoeting tussen twee Georgiete wat onwetend eintlik naby aan mekaar woon.
Claude Malan, 'n ywerige versamelaar van geskiedkundige materiaal en wat voorheen sy eie privaat museum in Pretoria besit het, het die trofee (bekend as die Claude Malan-trofee) dekades gelede aan die Potchefstroom Universiteit se nuutgestigte seëlklub geskenk.
Soos wat seëlversameling gegroei het, het die trofee uiteindelik sy weg gevind na die Nasionale Filateliese Vereniging wat dit jaarliks aan 'n besonderse versameling op uitstalling toeken.
Malan woon deesdae in George en, getrou aan sy aard, snuffel hy voortdurend, altyd op soek na nuwe interessante inligting oor die geskiedenis van George en omgewing. In die klompie jare wat hy en sy vrou hier gevestig is, het hy reeds 'n indrukwekkende versameling opgebou.
Toe hy onlangs 'n foto in die museum sien van 'n eertydse posmeester van George, wou hy graag meer weet. "Ek het dadelik aan Pauw Steyl se boek gedink wat ek 'n paar jaar vantevore by wyle Joh Groenewald gekoop het - The Postcart through Houtteniqualandt, Kannaland and the Lange Kloof."
Hy vertel dat hy destyds Steyl se nommer ook by Groenewald gekry het, maar dit was eers toe hy onlangs die posmeester se foto sien dat hy Steyl gebel het. Malan was verras om te hoor dat Steyl kort gelede as wenner van die Claude Malan-trofee aangewys is. Steyl was ewe verbaas toe hy besef hy praat met die skenker van die trofee.
Steyl se seëluitstalling wat die beker gewen het, het verband gehou met die Simboliese Ossewatrek van 1938 en was getiteld, 'Op die pad van Suid-Afrika - Die 1938 Simboliese Ossewatrek'.
Steyl het gesê die 1938 Simboliese Ossewatrek vertel 'n baie belangrike deel van Suid-Afrika se geskiedenis. Dit is gereël om saam te val met die hoeksteenlegging van die Voortrekker-monument.
Steyl sê daar is gebruik gemaak van 'n baie unieke amptelike posvervoerstelsel vir dié unieke geleentheid. Pos is per ossewa vanaf Kaapstad en ander dorpe op die verskillende roetes na Pretoria en Bloedrivier vervoer. Die regering het drie stelle spesiale Voortrekkerseëls uitgegee wat op spesiale koeverte en gewone pos gebruik is.
Van die seëls wat spesiaal uitgebring is vir die Simboliese Ossewatrek van 1938.
'n Foto van die Claude Malan-beker is op die sertifikaat wat ds. Pauw Steyl ontvang het.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'