GEORGE NUUS - ’n Sassa-begunstigde van George, Destimoniya Maart, het haar kommer uitgespreek oor die beskikbaarheid van nuwe swart Sassa-kaarte by die Shoprite in Thembalethu Square.
Maart sê sy en ander begunstigdes van maatskaplike toelae het die winkel herhaaldelik besoek, net om uit te vind dat daar geen kaarte beskikbaar is nie.
“Dis ’n groot probleem, want mense kom hierheen van plekke soos Karatara, Uniondale en Mosselbaai en vervoer is duur vir mense wat reeds sukkel om dit te kan bekostig. Hulle behoort darem seker te kan wees dat die kaarte beskikbaar is wanneer hulle daar aankom.
“Vrydag [14 Augustus] was die kaarte op. Gister [17 Augustus] was daar glo kaarte in Mosselbaai, maar niks by hierdie betrokke punt nie. Vandag [18 Augustus] is daar glo kaarte in die Kaap.”
In reaksie op die klagte het Postbank erken dat daar verlede week onderbrekings in die beskikbaarheid van kaarte by die Shoprite Thembalethu Square-bedieningspunt was.
Bongani Diako, Postbank se woordvoerder, het vanoggend, 26 Augustus, op George Herald se navraag geantwoord en gesê die punt is egter tans ten volle operasioneel. Die tydelike tekorte is hoofsaaklik veroorsaak deur verskille tussen die verwagte en werklike vraag na kaarte, asook vertragings in die afleweringstyd van koerierdienste.
“Ons vra opreg om verskoning vir die ongerief en frustrasie wat dit vir sommige van ons begunstigdes veroorsaak het,” sê Diako.
Volgens hom is die probleem nou opgelos en is maatreëls ingestel om te verseker dat daar voortaan voortdurend genoeg kaarte beskikbaar is.
“Met die 31 Augustus-sperdatum vir die migrasie na die swart kaarte wat nader kom, moedig ons begunstigdes aan wat nog nie hul kaarte vervang het nie om dit so gou moontlik te doen.”
Diako sê begunstigdes wat die sperdatum mis, sal nie hul toelaegeld verloor nie. “Toelaebetalings sal steeds in die rekeninge van enige begunstigdes gemaak word wat nie voor die sperdatum na swart kaarte migreer nie. Die rekeninge sal dus ná die sperdatum aktief bly. Begunstigdes sal egter eers hul migrasie na ’n swart kaart moet voltooi voordat hulle toegang tot hul fondse kan kry.”
Die meeste kaartvervangingspunte sal ook ná 31 Augustus vir ’n tydperk oopbly om mense te help wat die sperdatum mis.
Begunstigdes kan *120*355# vanaf enige selfoon skakel om ’n nabygeleë kaartmigrasiepunt op te spoor. Die migrasie is gratis en slegs ’n geldige ID of tydelike ID word benodig.
“Die swart kaarte kan in enige provinsie afgehaal word, ongeag waar die begunstigde se Sassa-toelae goedgekeur is. Die kaarte werk onmiddellik nadat dit uitgereik is en daar is geen behoefte om ’n Sassa-kantoor te besoek nie,” sê Diako.
Geen vorms hoef ingevul te word nie, en enige bestaande saldo op ’n begunstigde se goue kaart sal outomaties op die nuwe kaart beskikbaar wees.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’