GEORGE NUUS - 'n Groep van 13 Pacaltsdorpers van Ebenezer Ministries, onder wie drie kinders tussen 1 en 3 jaar, was op Maandag 28 Oktober weens die oorstromings vir agt ure in Meiringspoort vasgekeer.
Cynthia Boltman, leier van die bediening, wou graag hulle storie deel en 'n klomp mense bedank vir skenkings en bystand wat hulle gebied het.
Sy vertel toe hulle Maandagoggend die ingang van die poort bereik op pad terug van Kimberley af, was daar polisie- en ander voertuie.
Hulle self het in 'n bakkie en motor gereis op pad terug van 'n kerkgeleentheid en 'n kuier aan haar pa wat sy 74ste verjaarsdag gevier het.
"Die polisie het besluit om ons deur die poort te begelei, maar toe ons 'n ent in was, het hulle besef die pad vorentoe is oorstroom en ons sal nie kan deurgaan nie. Ons kon ook nie weer terug nie en ons het agter die polisie aan gery, heen en weer, op soek na 'n plek in die pas waar ons veilig sou wees. Daar het ons gestaan en wag.
"Omdat ons feitlik op die einde van ons reis was, het ons nie kos by ons gehad nie en daar was nie doeke vir die kinders nie. Dit was vreeslik. Die bakkie het nie 'n kappie agterop nie en ons beddegoed en klere was sopnat. Dit het aanmekaar gereën.
"Ons was geweldig bekommerd oor twee persone in ons groep wie se chroniese medikasie op was. Hulle het doktersafsprake vir later in die week gehad vir die herhaling van hulle voorskrifte."
Wagtend vir die water om te sak.
Net voor donker Maandagaand het 'n trokkie tot almal se groot verligting opgedaag om die vasgekeerdes in twee groepe uit te neem. 'n Sterker trok is gestuur om die voertuie uit te sleep.
"Die stroom het al sterker en hoër gevloei so daar is gevrees dat ons voertuie meegesleur sou word. Die bestuurders wat saam met die voertuie uitgesleep is, het hulle eie nagmerrieondervinding beskryf. Hulle kon voel hoe die stroom die voertuie meesleur terwyl hulle getou is," vertel Boltman.
Hulle het egter veiligheid bereik en is na Klaarstroom waar hulle in die gemeenskapsaal geakkommodeer is, maar die omstandighede daar was nie na wense nie. "Een van die chroniese pasiënte was so uitgeput dat hy op die harde vloer op die verhoog aan die slaap geraak het."
'n Gawe inwoner, Maria Pienaar, wat van hulle te hore gekom het, het kom kyk of alles reg is, en toe sy dit sien, het sy aangedring dat al 13 van hulle in haar huis oorbly.
"Dit was 'n eenslaapkamerhuisie en hoewel ons almal regop moes sit, was dit warmer en geselliger. Maria het vir ons iets te drinke en te ete gegee en ons is baie dankbaar vir haar wonderlike gasvryheid.
"Die volgende dag het ons kosbydraes ontvang danksy 'n raadslid se inisiatief daar en die munisipaliteit het matrasse en beenkomberse gebring. Ons het maar gewag dat die water in die pas afloop, want om Beaufort-Wes om terug te ry was vir ons hopeloos te ver.
"Uiteindelik het ons Donderdagoggend die groen lig gekry om deur die poort te ry en toe ons uiteindelik tuiskom, was dit so 'n ongelooflike verligting. Ons het opnuut waardering vir alles wat ons het."
Volgens Boltman het 'n maatskaplike werker van die departement van maatskaplike ontwikkeling hulle gekontak en gaan vir hulle 'n beradingsessie aanbied.
"Ebenezer Ministries wil graag baie dankie sê vir al die donasies, vir raadslid Mackay en raadslid Stamhoof van Prins Albert, die Prins Albert-munisipaliteit, Soul Food, die polisie en verkeersbeamptes wat op die toneel was, die gemeenskap van Klaarstroom, die Prins Albert-kliniek, die organisasies van Klaarstroom wat ons bygestaan het, en almal wat vir ons gebid het. Ons sal julle vir ewig dankbaar wees."
Vreugde toe die groep hoor hulle kan terugkeer George toe.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’