HARTENBOS NUUS - Die kaptein van die SA Senior Tennisspan, Christine van Coller sou vanoggend, op Sondag 1 Maart saam met haar lewensmaat vanaf George na Kaapstad en daarna na Dubai vlieg vir die wêreldkampioenskappe in Turkye.
Vlugte is egter gekanselleer omdat verskeie lande in die Midde-Ooste hul lugruim gesluit het ná militêre spanning en missielaanvalle in die streek.
Lande soos Israel, Iran, Irak, Sirië, Katar, Koeweit en Bahrein het hul lugruim tydelik gesluit of beperk, wat beteken vliegtuie mag nie daaroor vlieg nie.
Van Coller woon in Hartenbos.
“Ons tasse was reeds gisteraand gepak en ons sou vanoggend begin vlieg,” sê sy.
Die spankompetisie sou van 8 tot 13 Maart plaasvind, gevolg deur die individuele afdeling van 14 tot 20 Maart.
Volgens Van Coller wag die span tans op bevestiging van Tennis Suid-Afrika oor of die toernooi gekanselleer of uitgestel gaan word.
Sy sê een van haar spanlede het reeds Vrydag vertrek en is tans in Abu Dhabi waar sy by familie sou kuier voordat sy na Turkye reis.
“Hulle sit op die oomblik vas in Abu Dhabi,” sê Van Coller.
Die span het beplan om drie dae in Dubai deur te bring voordat hulle na Turkye vertrek.
Hotelverblyf en vervoer daar is reeds betaal. Ná die toernooi sou hulle ook Göreme en Istanbul besoek, met verblyf in Istanbul wat reeds bevestig en betaal is.
“Nou is dit maar wag en hoor. Intussen bly ons tasse gepak om moontlik nog te kan gaan,” sê sy.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’