GEORGE NUUS - Nadia Rossouw en haar jongste seun, Kian (10), was die afgelope paar jaar deur donker tye nadat hulle met Marfan-sindroom gediagnoseer is en albei ernstige operasies moes ondergaan.
Nadia het by die dood omgedraai, maar sê die uitstekende mediese hulp en ondersteuning van mense wat hulle in die Wes-Kaap, spesifiek in George en Kaapstad ervaar het, het haar deurgedra. Dis 'n wonderwerk dat sy lewe en is te danke aan die ekstra myl wat 'n klomp mense bereid was om te loop.
Marfan-sindroom is geneties oordraagbaar met 'n 50% kans dat 'n ouer dit aan hul kind kan oordra. Dit tas die ruggraat, hart, oë en ander organe asook die bene en spiere aan.
Nadia sê duur genetiese toetse, waarvoor hulle 'n fraksie van die koste betaal, het bevestig dat sy en Kian die geen het.
"Die dokters was verbaas dat ek deur twee geboortes is sonder dat hulle agtergekom het ek ly daaraan. Dit was vir my ’n geweldige skok. Ná ons diagnose was ons lewens een nimmereindigende maalstroom van besoeke aan dokters, mediese toetse, hospitaal- en kliniekbesoeke en reise heen en weer Kaap toe."
By die Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad is inwendige staalstawe aan weerskante van Kian se ruggraat ingeplant om die groeikurwe te normaliseer.
"Dit was 'n massiewe operasie, maar daarna was dit slegs nodig dat die skroewe elke ses maande tydens 'n klein prosedure verstel word. Ons is dus na ses maande terug, maar toe ontdek die dokters dat 'n skroef afgebreek het.
"'n Tweede groot operasie het gevolg en weer ses maande later is ons terug vir die verstelling, maar dieselfde het gebeur. Na deeglike oorweging het die dokters besluit om die laaste uitweg te neem en 'n ruggraatfusie te doen. Dit was 'n vreeslike traumatiese tyd vir ons."
Kian na sy laaste rugoperasie. Benewens al die operasies wat hy ondergaan het, was hy op 'n stadium ook weens Covid gehospitaliseer.
Tussendeur Kian se operasies deur het Nadia begin siek voel. Na 'n reeks toetse moes sy tot haar verdere skok hoor dat sy 'n hartklepvervanging moes kry.
In 'n eerste operasie by die Groote Schuur-hospitaal is 'n nuwe aortaklep vir haar opgebou uit weefsel wat van haar hartwand geoes is. Dit was 'n sukses en Nadia het selfs daarna as 'n vrywilliger by die bouramp gehelp.
Maar 'n maand of wat later was sy terug by Groote Schuur met erge infeksie. "Ek het só sleg gevoel dat ek werklik gedink het my einde het aangebreek. Ek is met die lugambulans Kaap toe vervoer. Hierdie keer is 'n meganiese klep ingeplant en 'n oorplanting van weefsel weer gedoen. Die dokters het nie gedink ek gaan dit maak nie, maar ek het herstel en hier is ek."
Nadia na haar tweede opehartoperasie in Julie.
Sy vertel haar en Kian se pad was een van ontsettende onsekerheid en vrees, maar een ding het die heeltyd uitgestaan - al die besonderse mense wat oor haar pad gekom het.
"Van die portier, verpleeg- en ambulanspersoneel, tot die dokters, skoonmakers en kliniekpersoneel was ieder en elk bemoedigend en behulpsaam. Hulle het soveel moeite gedoen. Ek kan nie stilbly oor die mense nie; ek moet my storie vertel. My ondervinding by Groote Schuur en Rooikruis was net so buitengewoon."
Nadia sê ook wat betref Kian se skolastiese behoeftes was sy verras. "Toe ons van Johannesburg af hier aankom, was ek moedeloos. Daarbo kon ek nie 'n geskikte skool kry nie. Daar was net nêrens hulp nie.
"Hier in George aangeland, was Heeltyd Speeltyd dadelik baie behulpsaam. Kian is uiteindelik verwys na Carpe Diem, waar ek weereens oorweldig is deur die warmte en omgee van die mense. Ons ondervinding hier in die Wes-Kaap was 'n verstommende teenpool teenoor Johannesburg en Gqeberha, waar ons ook voorheen gewoon het.
"Mense hier moenie kla nie. Hulle kry diens, én met empatie. Een van die hoogtepunte wat ek ervaar het van ruimhartigheid was tydens die bouramp. Ek was werklik oorbluf. Ek het nog nooit so iets beleef nie. Aan elke liewe persoon wie se pad met ons s'n gekruis het, baie dankie."
Nadia en haar ma, Monica van Aswegen.
'n Beertjie wat Nadia as vrywilliger by die bouramp present gekry het, was saam met haar hospitaal toe.
Ma en seun, gelukkig in George.
'n Dapper Kian met een van sy operasies in die hospitaal.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’